Nuus 12:00
BULLETIN 30 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering kondig reuse-brandstofprysverlagings vir Julie aan
# Amnestie Internasionaal beskuldig die regering dat hy spanning tussen Suid-Afrikaners en ander Afrikane aanwakker
# En krieket: Wolvaardt vra ‘n sterk kolfvertoning deur die Protea-vroue in die Wêreldbeker-halfeindstryd
# Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het aangekondig reuse-brandstofprysverlagings tree om middernag in werking. Die prys van 93-oktaan loodvrye petrol sal met twee-rand-een-sent per liter daal en 95-oktaan petrol met een-rand-96-sent per liter. Die departement se woordvoerder, Lerato Ntsoko, sê dieselpryse daal met tussen drie-rand-14- en drie-rand-59-sent per liter, en lampolie-pryse met vyf-rand-23-sent per liter:
# Die Beitbrug-grenspos in Limpopo is vanoggend rustig ondanks ‘n verwagte toename in reisigers na Zimbabwe. ‘n Toestroming van mense word verwag namate busse met Zimbabwiërs en Malawiërs deur die loop van die dag by die grens aankom. Wetstoepassers en grensbeamptes is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag om die verhoogde verkeersvloei te bestuur en veilige, ordelike beweging van mense oor die grens te verseker. Owerhede sê grensbedrywighede verloop tans glad, sonder enige noemenswaardige ontwrigtings.
Amnestie Internasionaal Suid-Afrika beskuldig die regering intussen dat hy verdeeldheid saai en spanning aanwakker tussen Suid-Afrikaners en ander Afrika-burgers. Die organisasie sê die regering volhard met ‘n gebrekkige immigrasiestelsel wat beteken asielsoekers is dikwels sonder geldige dokumentasie en in onsekerheid gedompel. Woordvoerder Shenilla Mohamed sê dis verkeerd en gevaarlik om asielsoekers, vlugtelinge en migrante as sondebokke voor te hou vir werkloosheid, ongelykheid en druk op openbare dienste. Sy sê geweld en eiereg sal nooit hierdie probleme oplos nie, maar lewens verwoes en verdeeldheid verdiep.
Nuus uit die buiteland:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê terrorisme onstaan te midde van globale onbestendigheid, wat gekenmerk word deur verhoogde geopolitieke spanning, langdurige konflikte en toenemende verbrokkeling. Vanjaar is die 20ste herdenking van die VN se Globale Teen-Terrorismestrategie, wat die wêreld se enigste raamwerk is vir die bekamping van terreur. Guterres waarsku terrorisme is aan die toeneem en buit nuwe tegnologieë uit, insluitend kunsmatige intelligensie, digitale platforms en onbemande wapens:
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vroue, Laura Wolvaardt, het haar span gevra vir ‘n dapper kolfvertoning in Donderdag se T20-Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland op die Oval in Londen. Suid-Afrika het gesukkel om ‘n middelmatige teiken te jaag tydens Sondag se laaste groepswedstryd teen Bangladesj op Lord’s, en Wolvaardt is veral gefrustreerd omdat sy vir ‘n nulletjie uitgehaal is. Sy is vasbeslote om Donderdag van voor af te lei. Australië en die Wes-Indiese Eilande pak mekaar in vandag se eerste halfeindstryd, met die eindstryd wat Sondag plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-465-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-23-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….