Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gautengse premier sê die regering sal alle hulpbronne gee om die skuldiges in Soshanguve-skietery vas te trek
# Die weermag distansieer homself van opmerkings op sosiale media
# En, sokker: Kylian Mbappé se toekoms sal die oordragperiode oorheers
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering sal alle hulpbronne beskikbaar stel om wetstoepassingsagentskappe in staat te stel om die skuldiges van die Soshanguve-skietery vas te trek wat die lewe van vier mense geëis het. Lesufi het só gesê tydens ‘n besoek aan die families van die slagoffers. Die vier is in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag in Jukulyn in Soshanguve doodgeskiet. Die premier sê 331 sake oor verskeie oortredings word tans in Soshanguve ondersoek:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het hom gedistansieer van die gewese vlootbevelvoerder, Sylvester Mangolele, se opmerkings op sosiale media. Mangolele het ‘n beroep gedoen dat president Cyril Ramaphosa binne 48 uur uit sy amp verwyder word. Die weermag sê in ʼn verklaring Mangolele is in 2018 uit die weermag ontslaan en praat nie namens die instelling nie. Die verklaring veroordeel ook Mangolele se uitlatings met die minagting wat dit verdien. Die weermag se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê sy opmerkings weerspieël op geen manier die weermag nie en verteenwoordig dit ook nie.
# Hamas sê een van sy topamptenare, Saleh al Arouri, is dood in ʼn ontploffing in Beirut. Hulle blameer Israel vir die ontploffing. Die staatsbeheerde Nasionale Nuusagentskap sê vier mense is dood in die ontploffing in die suidelike voorstad van Beirut, Dahiyeh, en is deur ʼn Israeliese hommeltuig uitgevoer. Al Arouri het ʼn sleutelrol vervul in Hamas en was betrokke om nouer bande te ontwikkel tussen die organisasie en die Iran-gesteunde Hezbollah-groep in Libanon. Die 57-jarige was een van die stigterslede van die militêre vleuel van Hamas en het ook Hamas se bedrywighede in die Wesoewer aangevoer.
# Sokker: Kylian Mbappé en sy moontlike skuif na Real Madrid sal na verwagting die hooftema wees tydens die oordragperiode wat Maandag in Europa begin. Mbappé, wie se driekuns verlede jaar nié die knoop vir Frankryk in die Wêreldbekertoernooi kon deurhak nie, sal die hoofonderwerp van bespreking wees. Real Madrid staan voor in die ry om die 25-jarige Mbappé op te raap. Dit is egter nog glad nie ‘n uitgemaakte saak dat Mbappé en die Franse se paaie gaan skei nie omdat hulle geen geheim maak van hul vurige ondersteuning vir hom nie. President Emmanuel Macron het hom in Junie 2022 oorreed om by Paris Saint-Germain aan te bly toe sy skuif na Real byna in die sakkie was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-105-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-62-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-45-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Studie onder leiding van die Universiteit van Maine toon dat die evolusie van die mens pogings kan verongeluk om ‘n oplossing vir klimaatsverandering te vind. Die navorsing ondersoek wyses waarop die omgewing wêreldwyd die toekomstige evolusie van die mens kan beperk. Die mens ondervind volgens die ondersoek veral ruimtelike beperkings. Die gebruik van fossielbrandstof in nywerhede is ook uitgewys as ‘n sleutelfaktor vir die ontstaan van skadelike uitdagings vir die omgewing wêreldwyd, wat ‘n bedreiging inhou vir veiligheid en toegang tot hulpbronne in die toekoms.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….