Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FNB verwag inflasie sal in Desember sowat drie-persent bly weens stygende brandstofpryse
# ‘n Navorser sê Spur moet weer na sy handelsmerk en bemarkingstrategieë kyk
# En Elton John word aangewys as Time se Ikoon van die Jaar
# FNB voorspel inflasie sal in Desember naby aan drie-persent bly, hoofsaaklik as gevolg van stygende brandstofpryse. Voedselinflasie sal waarskynlik beheersd bly, maar hoër behuisingskoste en ander kerninflasie-faktore kan ‘n mate van druk byvoeg. Ten spyte hiervan, word verwag dat wesensinflasie eers laat in volgende jaar die drempel van vier-persent sal oorskry. ‘n Ekonoom van FNB, Koketso Mano, sê globale risiko’s en ‘n swakker rand kan inflasie beïnvloed, maar geleidelike rentekoersverlagings word steeds verwag:
# Die Wes-Kaapse polisie ondersoek die ontdekking van dwelms en ammunisie by die huis van die Bergrivier-munisipaliteit se DA-burgemeester, Ray van Rooy. Hy is vir ondervraging ingeneem ná die vonds by sy huis in Piketberg, maar nog nie aangekla nie. Die munisipaliteit sê hulle wag op verdere optrede deur die polisie. Die DA-woordvoerder, Matthew Sims, sê Van Rooy ontken alle bewerings, maar onderneem om sy volle samewerking te gee met die regsproses wat sal volg.
# Die dinamiek van Suid-Afrika se ras, klas, geslag en kulturele identiteitskwessies kom almal byeen wanneer ‘n persoon gaan sit in ‘n Spur-familierestaurant, volgens ‘n nuwe studie deur ‘n navorser van die Universiteit van die Wes-Kaap, Thembelihle Bongwana. Sy sê sy het ondersoek hoe Spur, as ‘n voorbeeld van die vinnige kos en restaurantbedryf in Suid-Afrika, sy handelsmerk en bemarkingstrategieë moet aanpas om verby die oppervlakkige reënboognasie-vertelling te beweeg:
# Krieket: Geen ooreenkoms is nog bereik oor die formaat van volgende jaar se Kampioenetrofee-toernooi nie nadat Indië geweier het om in die gasheerland, Pakistan, te speel, te midde van sekerheidsvrese en politieke spanning. Pakistan het skynbaar ingestem tot ‘n hibriede toernooi wat behels dat hy in Doebai teen Indië speel, maar Indië maak beswaar oor die voorwaarde dat hy dan moet instem tot ‘n soortgelyke formaat in elke internasionale toernooi wat hy tot 2027 aanbied. Die agt beste manspanne in verlede jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi sal aan die toernooi deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-653-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-716-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: Die musieklegende, Elton John, is aangewys as Time-tydskrif se Ikoon van die Jaar. Die tydskrif sê die 77-jarige se dekades lange invloed het tot die eer bygedra. Daar word verwys na sy 57 treffers op die Amerikaanse Top 40, en sy ontwikkeling van ’n swierige verhoogkunstenaar tot ’n Broadway-komponis, Disney-liedjieskrywer en -medewerker. Hy het die afgelope 50 jaar meer as vier-duisend-500 konserte gehou en einde verlede jaar afgetree. John sê hy reken hy is op ’n manier gekies om beroemd te wees omdat hy die druk kan hanteer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….