Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Senior ekonoom van FNB sê Suid-Afrika se vervaardigingsektor bly onder druk
# Liggame in ‘n hospitaal in Damaskus toon tekens van marteling
# En, gholf: Scottie Scheffler is die derde keer die PGA-toer se Speler van die Jaar
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Thanda Sithole, sê die vervaardigingsektor bly onder druk weens swak plaaslike aanvraag en ‘n uitdagende globale omgewing. Vervaardiging het weliswaar in Oktober op ʼn jaargrondslag met 0,8-persent toegeneem en die daling van 0,8-persent in September omgekeer. Dit verbreek ook ʼn twee-maande-siklus van onindrukwekkende syfers. Sithole sê die swak prestasie is ondanks minder energiebeperkings en matige insetkoste:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Spesiale Toewysingswetsontwerp deurgevoer met teenstand van die MK-party en die Vryheidsfront Plus. Die wetsontwerp stel befondsing beskikbaar vir die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se koste van 40-miljoen-rand vir die hofsaak teen Israel in die Internasionale Geregshof. Dit stel ook 38,2-miljoen-rand beskikbaar vir die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling vir sy verrigtinge by die hof. Suid-Afrika het in Desember verlede jaar die saak by die hof aanhangig gemaak waarin hy Israel beskuldig van volksmoord.
# Siriese rebelle sê hulle het sowat 40 liggame met tekens van marteling gevind in die lykshuis van ‘n militêre hospitaal in die hoofstad, Damaskus, nadat president Basjar al-Assad se bewind omvergewerp is. Die liggame was in bloedbevlekte wit lyksklede toegedraai en in ‘n yskas opgestapel in die Harasta-hospitaal. Menseregtegroepe sê meer as 100-duisend mense het verdwyn sedert al-Assad in 2011 begin toeslaan het op pro-demokratiese betogings. ‘n Siriese organisasie sê die liggame is waarskynlik van aangehoudenes in die berugte Saydnaya-tronk.
# Gholf: Die wêreld nommer-een, Scottie Scheffler, is die PGA-toer se Speler van die Jaar, en sluit by Tiger Woods aan as die enigste speler wat die eer drie agtereenvolgende jare kon inpalm. Die Amerikaner het 91-persent van die stemme gekry. Scheffler spog met 13 PGA-toer-oorwinnings in sy loopbaan, waarvan sewe vanjaar. Hy het die eerste speler geword wat sy titel kon verdedig op die Spelerskampioenskap, en het sy tweede Amerikaanse Meesterskroon in drie seisoene ingepalm. Die 28-jarige is ook in Parys beloon met ‘n Olimpiese gouemedalje.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-870-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-691-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement herhaal sy beroep op matrieks wat feeste bywoon, insluitend die rage-geleenthede en kleiner partytjies, om dit verantwoordelik te doen. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, het erkenning gegee aan die opgewondenheid maar moedig matrieks aan om veilig fees te vier. Hy het bevestig 2024 se matriekeksamen word tans nagesien en sê die matrieks sal waarskynlik weer feesvier wanneer die uitslae vroeg volgende jaar vrygestel word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….