Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse Kamer van Koophandel sê Suid-Afrika se presidentskap van die G20 is ’n mylpaal vir Afrika
# Die Departement Water en Sanitasie gaan water uit die Sterkfonteindam laat om die Vaaldam aan te vul
# En, motorsport: Sergio Perez gaan volgens berigte sy bestuurdersposisie by Red Bull verloor
# Die Amerikaanse Kamer van Koophandel sê Suid-Afrika se presidentskap van die G20 is ‘n mylpaal in Afrika se rol om die wêreld se ekonomiese en beleidsagenda te vorm. Suid-Afrika het Sondag die eerste Afrika-land sedert die stigting van die G20 geword om die presidentskap te beklee. Die president van die kamer se Amerika-Afrika-sakesentrum, Kendra Gaither, sê Suid-Afrika se leierskap kom op ʼn kritieke tyd waar sakeondernemings en regerings oplossings soek vir globale probleme soos volhoubare ekonomiese groei.
# Die Departement van Water en Sanitasie het maatreëls getref om water uit die Sterkfontein-rugsteundam te laat om die voorraad vir Gauteng en omliggende gebiede aan te vul. Dit volg te midde van die dalende vlak van die Vaaldam wat binnekort die kritieke vlak van 18-persent kan bereik. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê dit neem ongeveer vier dae vir water van die Sterkfonteindam om die Vaaldam te bereik:
# Die vakbond Giwusa sê daar is blykbaar geen einde aan die wisselvalligheid van oliepryse nie. Die Outomobiel-Assosiasie waarsku motoriste dat hulle môre gemengde veranderings in brandstofpryse kan verwag. Die prys van 93-oktaan petrol kan dalk met sewe sent daal terwyl die prys van 95-oktaan moontlik met drie sent gaan styg. Diesel en lampolie se pryse gaan waarskynlik ook styg. Giwusa se woordvoerder, Koketso Phasha, sê dit is ʼn slegte vooruitsig vir motoriste in die feestyd:
# Die Universiteitsraad van Stellenbosch het ‘n mosie deur ‘n meerderheidstem asook die verduideliking van sy voorsitter en vise-kanselier aanvaar oor die verslag rakende die sluiting van die omstrede Wilgenhof-koshuis. Die vise-kanselier, Wim de Villiers, en die raadsvoorsitter, Nicky Newton-King, is daarvan beskuldig dat hulle die finale verslag aangepas het. Die raad het ook sy vroeëre besluit herbevestig dat die koshuis gesluit moet word en as nuut voorgestelde manskoshuis moet heropen.
# Motorsport: Die Mexikaan Sergio Perez gaan volgens berigte sy bestuurdersposisie by Red Bull verloor ná die komende naweek se laaste Grand Prix van die seisoen in Abu Dhabi. Die 34-jarige het slegs 152 van Red Bull se 581 vervaardigerspunte aangeteken en is 227 punte agter die wêreldkampioen, Max Verstappen. Die kontrakverlenging wat Perez in Junie onderteken het, beteken dat hy nie summier afgedank kan word nie, maar hy kan na ‘n ambassadeursposisie verskuif word. Die Red Bull-renjaers Yuki Tsunoda en Liam Lawson is die voorste kandidate om hom te vervang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-580-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-640-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….