Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Johannesburgse Aandelebeurs beboet Ramaphosa se voormalige raadgewer oor ‘n vals doktorsgraad
# Die Outomobiel-Assosiasie voorspel ‘n effense daling in petrolpryse in Desember
# En Rassie Erasmus verduidelik waarom hy terugkeer na die 5-3-verdeling vir die kragmeting met Engeland
# Die Johannesburgse Aandelebeurs het president Cyril Ramaphsa se voormalige raadgewer, Thabi Leoka, beboet omdat sy nie kon bewys dat sy ‘n doktorsgraad van die Londen School of Economics verwerf het nie. Leoka was ‘n direkteur van Remgro, Anglo American Platinum en MTN en deel van Ramaphosa se ekonomiese adviesraad. Sy is ‘n boete van 500-duisend-rand opgelê en onder openbare sensuur geplaas. Leoka mag vir vyf jaar nie as ‘n direkteur van maatskappye of op die bestuur van genoteerde maatskappye op die Beurs dien nie.
# Die Outomobiel Assosiasie sê Suid-Afrikaanse motoriste kan in Desember ‘n mengelmoes in brandstofprysaanpassings verwag. Die AA se woordvoerder, Eleanor Mavimbela, sê huidige ongeouditeerde data vanaf die Sentrale Energiefonds dui op ‘n daling in petrolpryse, met aansienlike stygings in diesel- en lampoliepryse. Sy sê volgens afleidings van die data sal die prys van loodvrye 95-oktaan-petrol met ongeveer vyf-sent-per-liter daal en loodvrye 93 ‘n geraamde 16-sent-per-liter:
# Die regering moedig gemeenskappe aan om saam met wetstoepassingsagentskappe te werk as deel van die nasionale poging om onwettige mynbedrywighede te bekamp. Sowat vier-duisend onwettige mynwerkers weier om uit ‘n ongebruikte mynskag by Stilfontein in Noordwes te kom. Die regering sê onwettige mynbedrywige is ʼn misdaad en oortreding van Suid-Afrikaanse wette. Dis ook deel van talle ekonomie-verwante misdade. Hy voeg by die land se veiligheid en sekerheid is ononderhandelbaar.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê die terugkeer na die tradisionele verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank is gemik op die uitdagings wat Engeland na verwagting môre op Twickenham gaan bied. Daar is 12 veranderings aan Suid-Afrika se opdrafspan wat Skotland verlede naweek verslaan het. Slegs Eben Etzebeth, Ox Nché en Bongi Mbonambi bly oor. Erasmus sê hy is tevrede met die hele span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-688-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-565-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Mej Suid-Afrika, Mia le Roux, moes haar noodgedwonge aan die Mej Heelal-kompetisie onttrek weens gesondheidsprobleme. Sy sê dit was uiters moeilik om hierdie besluit te neem want sy weet daar is drome en hoop op haar gevestig. Die Mej Suid-Afrika Organisasie sê Le Roux het deur hierdie moeilike tydperk ongelooflike moed en grasie aan die dag gelê en haar gesondheid en welstand kry voorkeur. Die Mej Heelal-kompetisie word die naweek in Mexikostad gehou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….