Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die Suid-Afrikaanse regering moet meer doen om Palestyne te ondersteun
# Rugby: Die Blitsbokbreier fokus op groepsdiepte
# En, giftige rookmis in Pakistan is nou uit die ruimte sigbaar
# Die GOOD-party sê Israel moet na die onderhandelingstafel gedwing word terwyl die Internasionale Geregshof se uitspraak in Suid-Afrika se volksmoordsaak teen die land hangende is. Meer as 43-duisend mense is volgens berigte in Israelse wraakaanvalle in Gaza dood. Die konflik het ontstaan nadat Hamas Israel op 7 Oktober verlede jaar ingeval het. Een-duisend-200 mense is vermoor en 251 gyselaar geneem. GOOD se woordvoerder, Brett Herron, sê die Suid-Afrikaanse regering moet meer doen om die Palestyne te ondersteun:
# Die Nasionale Tesourie doen ‘n beroep op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap om wigte en teenwigte te verbeter om bedrog te voorkom. Die departement bestuur deur Sassa ‘n jaarlikse begroting van 266-miljard-rand, met die maatskaplike noodverligtingstoelae wat 35-miljard-rand van die algehele toekenning uitmaak. Meer as agt-miljoen mense maak staat op maatskaplike toelaes. Die Tesourie lig die behoefte uit aan beter inkomste-beoordeling en bekragtiging van maatskaplike toelaebegunstigdes met die gebruik van data-kruisbeheer.
# Die EFF het die besluit van die Departement van Basiese Onderwys gekritiseer om provinsiale departemente toe te laat om die druk van nasionale seniorsertifikaat-eksamenvraestelle uit te kontrakteer aan privaat maatskappye. Dit het veroorsaak dat die algehele koste van die drukwerk opgeskiet het van minder as ‘n miljard-rand tot 3,6-miljard-rand. Die EFF se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê dit is duidelik dat die besluit die gevolg is van die DA se privatiseringsagenda onder minister Siviwe Gwarube:
# Rugby: Die afrigter van die Springbok Sewes, Philip Snyman, sê hy sien uit na die opbou van groepsdiepte in die aanloop tot die komende Wêreldreeks. Die Blitsbokke sal vir minstens die eerste twee toernooie in Dubai en Kaapstad sonder kaptein Selvyn Davids en Tiaan Pretorius wees, wat beseer is. Rosko Specman is nie meer deel van die sewesprogram nie, terwyl Justin Geduld hom aangesluit het by die Stormers. Snyman sê daar is verskeie sterk en ervare leiers in die groep:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-925-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-604-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Rekordvlakke van dik, giftige rookmis wat sedert verlede maand oor die oostelike dele van Pakistan en Noord-Indië hang, kan op satellietbeelde gesien word. Die besoedeling het die owerhede in Pakistan gedwing om skole en openbare ruimtes te sluit, aangesien dit die gesondheid van miljoene mense bedreig. Pasiënte wat ly aan die gevolge van die besoedeling oorval hospitale en klinieke in Pakistan en gesondheidsamptenare in Punjab sê meer as 30-duisend mense is vir asemhalingskwale behandel. Lugbesoedeling weens fossielbrandstowwe veroorsaak jaarliks die dood van 5,1-miljoen mense wêreldwyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….