Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê die opskorting van handelaars se kosverkope by skole is drasties
# Rugby: Groot skuiwe boaan die wêreldranglys na die naweek se toetse
# En die Suid-Afrikaanse sangeres Tyla palm drie MTV Europe-musiektoekennings in
# AfriForum sê die Gautengse Onderwysdepartement se besluit om die verkoop van eetgoed in en om skoolterreine te verbied is veels te drasties. Meer as 400 gevalle van voedselvergiftiging is in die provinsie aangemeld, met 23 sterftes, meestal onder kinders. Die Vrystaatse Onderwysdepartement het ook alle nie-skoolbestuurde verkoperbydrywighede in en om skoolterreine opgeskort. Alana Bailey van AfriForum sê vir sommige kinders is goedgekeurde snoepwinkels op skoolterreine die enigste bron van middagete:
Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê intussen plaaslike mense behoort alle spazawinkels in die metro te bedryf. Dit volg ná die styging in siektegevalle wat veroorsaak is deur besmette kos wat by spazawinkels gekoop is. Moya sê kinders kan nie langer sterf omdat hulle kos koop by spazawinkels wat aan buitelanders behoort nie. Sy sê die Standaarde-verordeninge vir township-ekonomieë sal deur alle munisipaliteite toegepas word om ‘n verenigde benadering te verseker wat die probleem met besmette kos betref.
# Die burgerlike organisasie NotInMyName International moedig die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, aan om opsy te staan omdat hy aangekla word van bedrog en diefstal. Hy behoort Woensdag in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng, te verskyn op aanklagte van die wangebruik van Safa-bronne, waaronder geld vir persoonlike beveiliging en skakelbeamptedienste. Die Valke het onlangs beslag gelê op dokumente en toerusting by Safa se kantoor by Nasrec in Gauteng, wat deel is van ‘n ondersoek na beweerde wanoptrede van 1,3-miljoen-rand. Die groep vra in ‘n verklaring vir aanspreeklikheid.
# Rugby: Die naweek se toetsuitslae het ‘n groot invloed gehad boaan die wêreldranglys. Suid-Afrika se terug as nommer een na gisteraand se oorwinning oor Skotland, met Nieu-Seeland nou tweede, gevolg deur Ierland, wat die boonste posisie moes prysgee nadat hulle teen die All Blacks verloor het. Frankryk bly vierde en Argentinië het opgeskuif na vyfde nadat hulle Italië geklop het, gevolg deur Skotland. Engeland het teruggesak na sewende na die nederlaag teen die Wallabies, wat opgeskuif het na agtste. Fiji is negende na hulle sege oor Wallis, en Italië tiende.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-167-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-670-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse sangeres Tyla het drie toekennings ingepalm op die MTV Europe-musiektoekennings wat in Manchester, Engeland, gehou is. Sy was die wenner van Beste R&B, Beste Afrobeats, en Beste kunstenaar uit Afrika. Die popsuperster Taylor Swift was die groot wenner met vier toekennings, naamlik Beste Kunstenaar, Beste Video vir haar samewerking met Post Malone aan Fortnight, Beste konsertvertoning, en Beste Amerikaanse bydrae. Onder die ander wenners was Eminem, Ariana Grande en Raye. Tyla sê sy is geëerd en geskok oor haar toekennings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….