Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Onderwysdepartement skort kosverkope op skoolterreine op
# Julius Malema beweer Dali Mpofu wou die EFF ontbind en agter Zuma verenig
# En, rugby: ‘n Volle naweek van toetsaksie wag op aanhangers
# Die Gautengse Onderwysdepartement het alle skole opdrag gegee om tot verdere kennisgewing die verkope van kos op en rondom skoolterreine op te skort. Dit volg ná ‘n toename in siektevoorvalle wat deur voedsel veroorsaak word. Verlede maand is ses kinders dood nadat hulle lekkernye geëet het wat hulle by ʼn spazawinkel in Soweto gekoop het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê sodra die skorsing opgehef word, sal skole maatreëls moet instel om kinders se gesondheid en welstand te beskerm:
Die Suid-Afirkaanse Nasionale Christenforum sê intussen hy is besig met regstappe teen president Cyril Ramaphosa om hom te dwing om alle spazawinkels in die land te sluit. Minstens 12 kinders is landwyd dood en talle in verskeie hospitale opgeneem. Die forum se leier, biskop Marothi Mashashane, sê Ramaphosa talm met optrede om aandag te gee aan die openbare noodsituasie.
# Die EFF-leier, Julius Malema, beweer terwyl oudpresident Jacob Zuma oorweeg het om ‘n politieke party te stig, het Dali Mpofu voorgestel die EFF ontbind en verenig agter Zuma. Mpofu het gister die jongste senior EFF-lid geword wat by Zuma se MK-party aansluit. Mpofu, wat die EFF se nasionale voorsitter was, het bevestig dat hy ʼn jaar gelede gehelp het om MK te stig. Malema het in ʼn potgooi gesê Mpofu het die voorstel ʼn jaar gelede tydens ʼn vergadering gemaak:
# Nissan het planne aangekondig om nege-duisend poste wêreldwyd te sny. Volgens News24 sal die onderneming ook sy uitvoerende hoof, Makoto Uchida, se salaris met 50-persent verminder, as gevolg van swak Noord-Amerikaanse verkope en Chinese mededinging met elektriese voertuie. Die motorvervaardiger het sy verkoopsvoorspelling tot 1,3-miljard-rand verminder en sal produksie met 20-persent sny. Nissan beplan ook om sy belange in Mitsubishi Motors af te skaal, as deel van ‘n breër omkeerstrategie wat op kostedoeltreffendheid en die herbou van sy handelsmerk gemik is.
# Rugby: ‘n Volle naweek van toetsaksie wag op aanhangers. Ierland en Nieu-Seeland pak mekaar vanaand in Dublin in hul eerste ontmoeting sedert die All Blacks die Iere verlede jaar verslaan het in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi. Engeland en Australië speel môre op Twickenham, gevolg deur die kragmeting tussen Italië en Argentinië in Udine. Frankryk verwelkom daarna vir Japan in Parys. Sondag speel Wallis in Cardiff teen Fidji, en die naweek sluit af op ‘n hoogtepunt wanneer die Springbokke en Skotland op Murrayfield ontmoet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-200-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-686-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….