Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige munisipale finansiële hoof kan aangekeer word nadat hy versuim om op te daag vir ‘n VBS-verwante hofsaak
# Die DA in Gauteng sê ‘n taakspan moet aangestel word om die vergiftiging van kinders te ondersoek
# En, sokker: Manchester City kry opdrag om Benjamin Mendy die grootste deel van 256-miljoen-rand te betaal wat teruggehou is na verkragting-aanklagte teen hom
# Die Valke in Limpopo soek na die Fetakgomo-Groter Tubatse-munisipaliteit se voormalige finansiële hoof, Tumelo Ratau, nadat hy hierdie week twee keer versuim het om in die Hooggeregshof in Pretoria te verskyn in ‘n VBS Mutual Bank-saak. Ratau is in November 2021 aangekeer vir sy beweerde rol in die bemiddeling van 230-miljoen-rand se onwettige beleggings. Ratau se medebeskuldigde, die voormalige munisipale bestuurder Nkhono Mohlala, het intussen ‘n pleitooreenkoms bereik en ‘n opgeskorte vonnis van vyf-jaar ontvang. Mohlala is ook beveel om 100-duisend-rand aan VBS se likwidateurs terug te betaal.
# Die DA in Gauteng vra premier Panyaza Lesufi om ʼn multidissiplinêre taakspan aan te stel om die vergiftiging van kinders te ondersoek. Die afgelope paar maande was daar ʼn skerp toename in gevalle waar kinders voedselvergiftiging opgedoen het nadat hulle kos geëet het wat by spazawinkels gekoop is. Crezane Bosch van die DA sê verkopers en spazawinkels moet deeglik gekeur word:
COPE sê intussen die voortslepende gevalle van voedselvergiftiging wek ernstige kommer oor mense se welstand en gesondheid. Ses kinders is verlede maand in Soweto dood nadat hulle aartappelskyfies geëet het wat by ‘n spazawinkel gekoop is. Daar is bevind dit het ‘n stof bevat wat gebruik word as rottegif. Gevalle is ook aangemeld in die Oos-Kaap, Mpumalanga en die Vrystaat. Pakes Dikgetsi van COPE sê die voorvalle het oor jare opgebou:
# FNB het met BankservAfrica saamgespan om feitlik onmiddellike oorgrensbetalings moontlik te maak binne die Gemene Monetêre Gebied, wat Suid-Afrika, Namibië, Lesotho en Eswatini behels. FNB-kliënte kan nou 24-uur per dag tot 25-duisend-rand onmiddellik oor grense oorplaas met verhoogde sekerheid en laer koste. Dit gee aandag aan kliënte in die gebied se eis vir vinniger, veilige oorbetalings en is in ooreenstemming met reguleringsvoldoening ingevolge Suid-Afrika se status op die gryslys.
# Sokker: ‘n Britse regter het Manchester City beveel om sy gewese speler, Benjamin Mendy, die grootste deel van 256-miljoen-rand te betaal wat teruggehou is nadat hy in 2021 van verkragting en seksuele aanranding aangekla is. Die 30-jarige verdediger het die saak na ‘n arbeidstribunaal geneem nadat hy onskuldig bevind is op al nege aanklagte teen hom. Die gewese Franse internasionale speler het City verlede jaar verlaat. Hy sê ‘n senior klub-amptenaar het hom verseker hy sal sy onbetaalde salaris ontvang indien hy onskuldig bevind word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-921-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….