Nuus 12:00
BULLETIN 11 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Forum for South Africa sê die Nasionale Dialoog is ‘n geleentheid vir plundering
# Die VF Plus in Gauteng verwelkom die hofbeslissing om die Heidelbergse Bierfees by die Erfenismuseum te verbied
# En rugby: Die Bokke is gereed vir die Wallabies
# Forum for South Africa sê die regering gebruik die Nasionale Dialoog as ‘n strategie om die fokus te verskuif van gesagsfigure wat aanspreeklik gehou moet word. Die dialoog skop Vrydag en Saterdag af met ʼn tweedaagse nasionale konvensie by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê hulle sien die dialoog as ʼn geleentheid om te plunder, en voeg by die eerste punt moet die hantering van korrupsie wees:
# Action Society veroordeel die beplande Artikel 174-aansoek deur die agt BBP-beskermingseenheid-beamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle burgerlikes in Julie 2023 op die N1 in Gauteng aangerand het. Die beamptes, wat die Bloulig-mafia genoem word, staan tereg op 12 aanklagte, insluitend aanranding met die doel om ernstig te beseer, en sal volgende week weer in die Randburgse Landdroshof verskyn. Die aansoek vra kwytskelding van aanklagte weens beweerde onvoldoende bewyse. Action Society sê dis ‘n desperate stap en dring daarop aan dat die saak moet voortgaan.
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die Gautengse Hooggeregshof se beslissing dat die Heidelbergse Bierfees die perseel van die Heidelberg-erfenismuseum moet ontruim. Dit is weens onwettige besetting, skuld van 1,3-miljoen-rand en kommer oor veiligheid. Mari Boshoff van die VF Plus sê die fees se eienaar, Bouwe Wiersma, het ʼn brouery op die perseel begin, onderverhuur geboue aan talle ondernemings insluitend restaurante en ʼn fotografiemaatskappy, en bied feeste op die terrein aan:
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Anthony Albanese het aangekondig Australië sal die Staat van Palestina erken op volgende maand se 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Lande soos Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Kanada het reeds hul voorneme aangekondig om ʼn Palestynse staat amptelik te erken om hopelik vrede in die Midde-Ooste te bring. Israel sê hierdie erkenning beloon terrorisme. Albanese sê Australië se posisie is voorafgegaan deur beloftes wat hulle van die Palestynse Owerheid ontvang het:
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus is vol vertroue dat sy span hul huiswerk gedoen het vir die Wallabies se Rugbykampioenskaps-toer in Suid-Afrika. Dit volg op ‘n intensiewe oefen- en kondisioneringskamp van twee weke in Johannesburg. Die Bokke sal die Wallabies Saterdag op Ellispark pak en weer volgende naweek in Kaapstad. Erasmus beklemtoon die belangrikheid van hul voorbereiding om die mededingendheid van die Wallabies, die All Blacks en die Pumas te ewenaar. Hy is tevrede met die werk wat die spelers ingesit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-609-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….