Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng eis dat die hoof van Pretoria High School for Girls se skorsing opgehef word
# Motorsport: Francesco Bagnaia wen in Maleisië wat beteken die MotoGP-titel gaan in die laaste wedren beslis word
# En, “Brat” is Collins Dictionary se woord van die jaar vir 2024
# Die DA in Gauteng eis dat die skorsing van die hoof van Pretoria High School for Girls, Phillipa Erasmus, onmiddellik opgehef word. Twaalf matriekleerders van die skool is op 12 Julie geskors omdat hulle na bewering rassistiese aanmerkings op ʼn WhatsApp-groep gemaak het. Die provinsiale Onderwysdepartement het toe besluit om Erasmus te skors. Sergio Isa dos Santos van die DA sê LUR Matome Chiloane het klaaglik misluk om sy verpligtinge na te kom om die regte prosedures te verseker en onderwysers se regte te beskerm:
Minstens 245 skole in Gauteng is intussen as hoë-risiko uitgewys weens hulle plasing, onvoldoende veiligheid, sekerheidsmaatreëls en leerdergedrag. Dit is op ‘n imbizo oor skoolveiligheid in Soweto onthul. Chiloane het benadruk dat kwessies soos bendebedrywighede, dwelmhandel en toegang tot wapens in nabygeleë gebiede, die skole raak. Chiloane vra ouers om ‘n aktiewer rol in hulle kinders se opvoeding te speel om die uitdagings die hoof te bied:
# Die Wes-Kaapse regering waarsku dat noodsaaklike dienste in die voorste linies, veral gesondheid en onderwys, weens begrotingsbesnoeiings in gevaar is ná verlede week se mediumtermyn-begroting. Die LUR vir Finansies, Deidré Baartman, het kommer uitgespreek oor die gebrek aan bykomende befondsing te midde van stygende eise, migrasie na die provinsie en bedryfskoste. Sy sê die provinsie sal onderwysposte verminder en alternatiewe inkomstebronne ondersoek. Dit sluit wetgewing oor aanlyn dobbel in.
# Motorsport: Die verdedigende wêreldkampioen, Francesco Bagnaia, kan steeds sy MotoGP-titel behou nadat hy die Maleisiese Grand Prix gewen het. Die Italianer het drie sekondes voor sy kampioenskapsmededinger, Jorge Martin, geëindig, met Enea Bastianini derde. Brad Binder van Suid-Afrika was in ‘n ongeluk betrokke en kon nie klaarmaak nie. Die kampioenskap sal later die maand in die laaste wedren van die seisoen beslis word, met Martin wat tans met 24 punte voorloop. Bagnaia sê hy geniet die mededinging om die titel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-587-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: Collins Dictionary het die woord brat aangewys as sy woord van die jaar vir 2024. Die woord verwys na iemand wat ʼn selfversekerde, onafhanklike en genotsugtige houding het. Die Britse woordeboekuitgewer sê die Britse sanger Charli XCX het die woord gewild gemaak. Ander woorde op die kortlys sluit in delulu, wat beteken iemand se idees of verwagtinge is heeltemal verkeerd of onrealisties, asook die woord anti-tourism. Die woordeboek het A-I verlede jaar as woord van die jaar gekies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….