Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die besluit om die Maatskaplike Verligtingshulptoelaag op te skort is verkeerd en roekeloos
# Uitsetting van onwettige besetters by die Kasteel die Goeie Hoop is afgehandel
# En, krieket: Heinrich Klaasen van SA is die duurste speler ooit in IPL se geskiedenis
# Die GOOD-party sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit om die Maatskaplike Verligtingshulptoelaag van 370-rand per maand volgende jaar op te skort, ondanks die voorspelde groei in die ekonomie wat te stadig is om werk te skep, is ‘n klap in die gesig van miljoene Suid-Afrikaners wat nie gekies het om arm te wees nie. Die sekretaris-generaal van die party, Brett Herron, sê volgens die staat se eie berekening is die bedrag wat nodig is om ‘n volwassene te voed, bekend as die voedsel-armoede-drempel, 796-rand per maand.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die uitsetting van onwettige besetters by die Kasteel die Goeie Hoop is vanoggend afgehandel. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het in September ‘n uitsettingsbevel aan die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur toegestaan en die hawelose gemeenskap tot 17 Oktober tyd gegee om die gebied te ontruim. Hill-Lewis sê die uitsetting is uitgevoer onder bevel van die balju van die hof en met die hulp van die polisie:
# Voorlopige verkiesingsuitslae toon Botswana se regerende party het ʼn skokkende nederlaag gelei en sy greep van byna ses dekades op dié diamantryke land verloor. President Mokgweetsi Masisi se Botswana Democratic Party wat sedert sy onafhanklikwording van Brittanje in 1966 regeer het, het tot dusver net een setel gekry. Drie opposisiepartye het saam 31 van 61 setels gewen. Meer as een-miljoen mense uit ʼn bevolking van 2,6-miljoen was geregistreer om Woensdag te stem. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal na verwagting later vandag die amptelike uitslag aankondig.
# Krieket: Heinrich Klaasen van Suid-Afrika het die duurste speler in die geskiedenis van die Indiese Premierliga geword met wie ‘n kontrak gesluit is. Sunriser Hyderabad het die paaltjiewagter en kolwer vir 48-miljoen-rand aangestel vir die 2025-seisoen, saam met kaptein Pat Cummins en Travis Head van Australië. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Faf du Plessis, is nie deur Royal Challengers Bengaluru gekontrakteer nie. Die verdedigende kampioene, Kolkata Knight Riders, het sy kaptein, Shreyas Iyer, laat gaan. Klaasen sê hy is opgewonde om steeds vir die Sunrisers te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-237-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-13-sent per vat.
# En, ten slotte: Die organisasie sonder winsbejag, Outside the Bowl Africa, doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om by sy Million Meals-veldtog aan te sluit. Die veldtog is gemik op die verskaffing van een miljoen maaltye aan kwesbare kinders oral in die land. ‘n Skenking van 150-rand kan 20 kinders voed en ‘n regstreekse uitwerking hê. Die uitvoerende direkteur van die organisasie, Loren Erasmus, sê in samewerking met die Feed the Nation-stigting en ondersteuning van skenkers kan hulle verseker dat nie een kind honger ly nie. Die veldtog eindig in die eerste week van Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….