Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile lig die Parlement in oor pogings om Suid-Afrika se wateruitdagings aan te pak
# Krieket: Die Proteas dwing Bangladesj om op te volg op die derde oggend in Chattogram
# En, een persoon wen die tweede grootste Lotto-boerpot ooit in Suid-Afrika
# Adjunkpresident Paul Mashatile sal vandag die Nasionale Vergadering inlig oor regeringspogings om aandag te skenk aan die wateruitdagings in Suid-Afrika. Hy sal ook die Verenigde Koninkryk en Ierland se potensiële beleggings bespreek, plus onlangse maatreëls deur die Watertaakspan, en optrede teen munisipaliteite vir besoedeling. Woordvoerder, Linah Ledwaba, sê die jongste oor die Nasionale Dialoog en wysigings aan grondonteiening sal ook bekendgemaak word:
# COPE vra die regering om ‘n inklusiewe Codesa oor die ekonomie byeen te bring en sê die stand van die ekonomie is kommerwekkend. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het gister met die indiening van die mediumtermynbegroting in die Parlement gesê groei van 1,1-persent in die bruto binnelandse produk word vir vanjaar voorspel. Dit is laer as die geraamde 1,3-persent in Februarie. Pakes Dikgetsi van COPE sê fiskale volhoubaarheid is absoluut noodsaaklik:
# Die akteur en gewese Republikeinse goewerneur van Kalifornië, Arnold Schwarzenegger, het die jongste bekende geword wat visepresident Kamala Harris steun in volgende week se Amerikaanse verkiesing. Schwarzenegger sê as Donald Trump wen, sal hy mense verdeel, beledig en nuwe maniere vind om on-Amerikaans te wees. Intussen het die beroemde ruimtevaarder Buzz Aldrin gesê hy staan agter Trump en loof hom vir sy ondersteuning van ruimteverkenning. Die sanger Nicky Jam het sy ondersteuning aan die oudpresident onttrek nadat ‘n komediant vir Puerto Rico beledig het op ‘n saamtrek van Trump.
# Krieket: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, het ‘n opvolgbeurt afgedwing na hulle eerstebeurt-voorsprong van 416 lopies in die tweede toets teen Bangladesj in Chattogram. Die tuisspan het op 38 vir vier hervat nadat Suid-Afrika gister sy beurt op 575 vir ses gesluit het. Kagiso Rabada het vinnig drie paaltjies by sy twee van gister gevoeg en Keshav Maharalj het nog een laat kantel voor Mominul Haque en Taijul Islam die boulers gefrusteer het met ‘n vennootskap van 103 lopies om die negende paaltjie. Bangladesj is uiteindelik uitgeboul vir 159. ‘n Kort rukkie gelede was die telling 68 vir vyf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-408-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-779-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-21-sent per vat.
# Ten slotte: Een persoon het gister se Lotto-boerpot gewen en is nou 103,6-miljoen-rand ryker. Die wenner, wat nog geïdentifiseer moet word, het al ses nommers reg gehad. Die operateur van die Nasionale Lotery, Ithuba, sê die boerpot was die tweede grootste ooit wat in Suid-Afrika aangeteken is, na die prys van 110-miljoen-rand wat vier deelnemers in Januarie 2018 gedeel het. Wanneer die volgende Lotto-trekking Saterdag plaasvind, sal die boerpot na raming drie-miljoen-rand wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….