Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE versoek Ramaphosa om die Vrystaatse premier af te dank
# Die DA in Gauteng sê Lesufi moet die bevindings bekendmaak oor vrugtelose en verkwistende uitgawes van 230-duisend-rand
# En, krieket: Taijul Islam beloof Bangladesj sal sy spelpeil herwin in die tweede toets teen Suid-Afrika
# COPE in die Vrystaat het president Cyril Ramaphosa gevra om premier Maqueen Letsoha-Mathae af te dank. Nathane Makalo van COPE sê die Departement van Gesondheid het onder Letsoha-Mathae meer as duisend-200 verpleegassistente ontslaan. Hy sê terwyl die party vra dat klinieke 24uur per dag oop moet wees, en die nasionale regering druk om dit deur te voer, fokus Letsoha-Mathae daarop om gesondheidswerkers af te dank:
# Die DA in Gauteng eis dat premier Panyaza Lesufi die bevindings bekendmaak van die Departement van Finansies se ondersoek na vrugtelose en verkwistende uitgawes van 230-duisend-rand. ‘n DA-woordvoerder, Madeleine Hicklin, sê dit sal verseker dat gevolgbestuur ingestel word teen amptenare wat regulasies van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree. Sy sê dit sal ʼn voorbeeld stel dat staatsfondse nie vermors moet word nie:
# Die Duitse motorvervaardiger, Volkswagen, het aangekondig hy is van plan om duisende personeellede af te lê, ten minste drie fabrieke in die land te sluit en die oorblywende aanlegte te verklein om koste te besnoei en sy sakemodel op te knap. Europa se grootste motorvervaardiger het nie gesê watter aanlegte geraak sal word of hoeveel van die sowat 300-duisend personeellede hul werk sal verloor nie. Reuters berig Volkswagen se bestuur verkeer onder geweldige druk weens hoë energie- en arbeidskoste, strawwe mededinging van Asiatiese lande, ‘n swakker aanvraag in Europa en China, en ‘n stadiger oorgang na elektriese motors.
# Die eienaar, Jeff Bezos, het Washington Post se besluit verdedig om nie ʼn Amerikaanse presidentskandidaat te onderskryf nie. Die redaksionele raad wat afsonderlik is van die joernaliste wat daar werk, het dekades lank ʼn moontlike president gesteun. Bezos, wat ook Amazon se uitvoerende hoof is, sê indien ondersteuning aan ʼn kandidaat gepubliseer word, sal dit lesers se vertroue in die koerant se integriteit ondermyn. Volgens berigte is ʼn konsepkennisgewing om Kamala Harris aan te beveel, reeds opgestel. Die besluit het groot ontsteltenis ontlok en sowat 200-duisend lesers het hul intekening gekanselleer.
# Krieket: Bangladesj se draaibouler, Taijul Islam, sê sy span is vasberade om die reeks teen Suid-Afrika gelykop te maak met ‘n oorwinning in die tweede en laaste toets wat vanoggend in Chattogram begin het. Bangladesj het die eerste toets met sewe paaltjies verloor. Die Suid-Afrikaners hoop om skoonskip te maak en op te skuif op die Wêreldtoetskampioenskap se punteleer. Die Proteas is tans vyfde en Bangladesh agtste. Suid-Afrika kolf eerste en het teetyd op 205 vir een gestaan, met Tony de Zorzi onoorwonne op 101.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-585-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….