Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beloof om teen kragtariefverhogings te veg
# Die Mededingingskommissie beveel ‘n verbod aan op die samesmelting tussen Sun International en Peermont
# En, rugby: George Ford is een van drie spelers wat opgeroep is vir Engeland se groep vir Saterdag se kragmeting met die All Blacks
# Die ANC het sy teenkanting uitgespreek teen enige verhoging in kragtariewe. Die voorsitter van die party se Ekonomiese Transformasiekomitee, Mmamaloko Kubayi, het tydens ‘n nuuskonferensie op die nasionale uitvoerende komitee se vergadering in Boksburg benadruk dat krag bekostigbaar moet bly. Sy het die party se verbintenis tot die beskerming van huishoudings en die bestendiging van die sektor benadruk deur toe te sien dat kwesbare Suid-Afrikaners gesubsidieer word om stygende kostes in toom te hou:
# Die Mededingskommissie het aanbeveel dat die Mededingingstribunaal die voorgestelde transaksie moet verbied waarmee Sun International Limited beplan om Peermont Holdings te verkry. Albei is betrokke in die casino-dobbelbedryf. Die kommissie se woordvoerder, Siyabulela Makunga, sê hulle het bevind die voorgestelde samesmelting sal waarskynlik mededinging keer of verminder in die voorsiening van casino-dienste in sentraal-Gauteng en die res van Suid-Afrika:
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, het oudpresident Donald Trump beskuldig van ‘n selfsugtige veldtog van wraak, terwyl sy en haar ondersteuners werk vir ‘n beter toekoms vir alle Amerikaners. Sy het ‘n saamtrek toegespreek in Pennsylvania, een van die deurslaggewende deelstate, voor die presidentsverkiesing op 5 November. Byna 42-miljoen Amerikaners het reeds hulle kruisies getrek voor stemdag. Harris sê die verkiesing is ‘n kans om die vrees en verdeeldheid om te keer wat die kenmerk geword het van die politiek in Amerika:
# Rugby: Engeland se hoofafrigter, Steve Borthwick, het die veteraan-losskakel George Ford, Alex Coles en Ted Hill opgeroep vir die groep van 36 spelers voor Saterdag se toets teen Nieu-Seeland op Twickenham. Ford moes sy fiksheid bewys nadat hy ‘n dyspierbesering opgedoen het terwyl hy vir Sale gespeel het. Ollie Chessum is weens ‘n kniebesering nie beskikbaar nie, terwyl Charlie Ewels tans gereed maak om terug te keer. Die wedstryd is die eerste van vier kragmetings vir Engeland, wat ook te staan kom teen Australië, Suid-Afrika en Japan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-458-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Nvidia het Apple onttroon as die wêreld se waardevolste maatskappy, na ‘n rekordlopie in sy aandele, aangevuur deur die onversadigbare vraag na sy gespesialiseerde kunsmatige intelligensie-skyfies. Nvidia se waarde op die aandelebeurs was ‘n rukkie lank 3,53-duisend-miljard-Amerikaanse dollar, effens hoër as Apple se 3,52-duisend-miljard, volgens data van die Londense Aandelebeursgroep. Die skyfiemaker van Silicon Valley is die grootste van verwerkers wat gebruik word in kunsmatige intelligensie-rekenaarwese. Die maatskappy het die grootste wenner geword in die mededinging tussen die Microsoft-, Alphabet- en Meta-platforms en ander swaargewigte wat dié ontluikende tegnologie oorheers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….