Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sewe mense in Bishop Lavis in Kaapstad doodgeskiet
# Die Padagentskap onthul dat 80-persent van Johannesburg se brûe in gevaar is om ineen te stort
# En, rugby: Die Bok-agsteman lei die Bulle teen Benetton in Treviso
# Die Wes-Kaapse polisie sê een van die beseerdes wat ernstige kopbeserings opgedoen het in gisteraand se massaskietvoorval in Bishop Lavis in Kaapstad, is in die hospitaal dood. Nog vier mans en twee vroue is vermoor. Polisiewoordvoerder Andrè Traut sê ‘n gewapende verdagte het gisteraand omtrent 20 voor nege by ʼn informele woning in Kogelbergstraat ingegaan en op die mense losgebrand:
# Die Johannesburgse Padagentskap het onthul dat 702 van die stad se 902 brûe in ‘n swak toestand is. Daar word bereken dat 80-persent op die punt staan om in duie te stort weens vertraagde herstelwerk of begrotingstekorte. Sowat 240-miljoen-rand word benodig om 11 brûe te herstel, maar slegs 89,5-miljoen-rand is vir die huidige boekjaar geoormerk. Die uitvoerende hoof van Outa, Wayne Duvenhage, het dit toegeskryf aan onvoldoende onderhoud en swak leierskap.
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging beplan om volgende maand aansoek te doen vir ‘n nulkoers-belasting op toegevoegde waarde op sekere hoenderprodukte. Hierdie stap volg ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging om meer noodsaaklike kosse vry te stel van BTW. Die vereniging beoog om lae-inkomste huishoudings te teiken deur produkte soos vars en bevrore hoenderafval en gebeende hoender voor te stel om verbruik te bevorder en voedselsekerheid te verbeter. Die vereniging sê hoewel ‘n nulkoers-belasting die staat meer as vier-miljard-rand kan kos, kan verhoogde plaaslike produksieverliese deur ander belasting verreken word.
# Die DA in Gauteng sê hy kan nie toelaat dat die Lewende Erfenismonument vir Vroue en die Pretoriase Groot Sinagoge wat aansienlike erfeniswaarde het, ongebruik en vervalle bly nie. Leanne de Jager van die DA sê daar word jaarliks fondse begroot om seker te maak alle gedenkwaardighede is oop en tot voordeel van die mense:
# Rugby: Die Springbok-agtsteman, Elrigh Louw, sal die Bulle in vanaand se Verenigde Rugbykampioenskapwedstryd teen Benetton in Treviso aanvoer nadat hy van harsingskudding herstel het. Die veteraan Marcell Coetzee en die opkomende ster Reinhardt Ludwig vorm saam met hom die lostrio. Ludwig het die span verlede week aangevoer toe hulle teen Scarlets verloor het na die Bok-haker Johan Grobbelaar se rooikaart, wat na die wedstryd na geel verander is. Grobbelaar en Louw vertrek Sondag saam met die Bokke na Europa voor hulle toetse teen Skotland, Engeland en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-380-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-724-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….