Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte wat vasgetrek is vir die moord op ‘n sesjarige meisie van Soweto is ’n Mosambiekse burger
# Die Universiteit Stellenbosch en die Wilgenhof-vereniging lê hulle geskil by oor die koshuis se sluiting
# En, krieket: Die Proteas klop Bangladesh met sewe paaltjies in die eerste toets
# Gauteng se polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê die verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord en verkragting van die sesjarige Amantle Samane, is amptelik uitgeken as Pethe Sara Simiao. Die Mosambiekse burger is gisteraand aangekeer. Amantle se liggaam is Maandag in ‘n hut naby haar huis in Soweto gevind. Mthombeni sê hulle het ʼn probleem met Suid-Afrikaners wat onwettige buitelandse burgers huisves:
# Die Universiteit Stellenbosch en die Vereniging vir die Bevordering van Wilgenhof-inwoners het ‘n ooreenkoms bereik oor die universiteit se besluit om volgende jaar die geskiedkundige Wilgenhof-manskoshuis te sluit. Die vereniging het ‘n hofinterdik aangevra om die sluiting te verhoed, wat die universiteitsraad toeskryf aan onaanvaarbare, geheimsinnige inlywingsgebruike. Inwoners van Wilgenhof kan as deel van die ooreenkoms gedurende opknappings saam in ‘n ander koshuis woon en terugkeer in die tweede termyn. Albei partye is verbind tot vernuwing en hervorming wat ’n verandering teenoor gebruike van vroeër verteenwoordig.
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, glo oudpresident Donald Trump wil in ‘n moontlike tweede termyn onbeteuelde mag hê. Dit volg nadat Trump se voormalige personeelhoof in die Withuis, John Kelly, hom ‘n fascis genoem het. Hy het opgehaal hoe Trump die feit betreur het dat hy nie generaals gehad het wat trou aan hom gesweer het op dieselfde manier wat militêre bevelvoerders Adolf Hitler gedien het nie. Harris sê Trump wil ‘n Weermag hê wat aan hom, persoonlik getrou is:
# Krieket: Kagiso Rabada en Kyle Verreynne was Suid-Afrika se helde in hulle oorwinning met sewe paaltjies oor Bangladesj in die eerste toets in Mirpur. Verreyne het die Proteas in hulle eerste beurt gelei tot ‘n voorsprong van 202 lopies met ‘n blitsige honderdtal nadat die gashere uitgeboul is vir net 106. Rabada het toe ses paaltjies platgetrek en Bangladesj vir 307 help uitboul, wat aan die besoekers ‘n wenteiken van 106 gestel het. Suid-Afrika het dit bereik vir die verlies van drie paaltjies. Die tweede toets begin Dinsdag in Chattogram.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-108-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Die Kaapstadse hawe is op die Wêreld-reistoekennings aangewys as Afrika se voorste passasierskiphawe. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die hawe dié toekenning ontvang. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese groei, James Vos, sê hierdie erkenning beklemtoon die hawe se toenemende bekendheid in die plesiervaartbedryf. Agt-en-tagtig skepe en sowat 130-duisend passasiers word in die 2024/’25-seisoen verwag. Vos sê elke boot wat in die hawe aandoen, dra 100-miljoen-rand by tot die plaaslike ekonomie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….