Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank ontvries nege-miljard-rand vir Steinhoff se opvolger, Ibex
# ActionSA vra dringende ingrypings oor die vergiftiging van kinders
# En ‘n Italiaanse branderryer sterf na sy deur ‘n swaardvis deurboor is in Indonesië
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het nege-miljard-rand ontvries vir Steinhoff se opvolger, Ibex, om krediteure en raadgewers te betaal. ‘n Beslaglegging van 6,2-miljard-rand wat verband hou met valutabeheer-skendings bly egter van krag. Ibex het betoog die bank se aanvanklike bevriesing was onwettig omdat dit onbehoorlik goedgekeur is. News24 berig ‘n regstryd woed voort oor die beslaglegging en die saak sal na verwagting volgende jaar aangehoor word.
# ActionSA het ‘n mosie in die Parlement ingedien waarin hy vra vir dringende ingryping om ‘n einde te maak aan die kommerwekkende sterftes onder kinders weens besmette kos wat met spazawinkels verbind word. Net in Gauteng is 203 gevalle tussen Februarie en September aangemeld, waartydens ses kinders dood is. Lerato Ngobeni van Action SA sê plaaslike spazawinkels word grotendeels deur buitelanders bedryf, en gesondheidsinspeksies word nie gereeld op dié persele uitgevoer nie:
# Rise Mzansi vra beter toestande vir matrieks wat die eindeksamen skryf. Die party kritiseer die huidige toestand van talle skole en sê twee-duisend het steeds puttoilette, en by vier-duisend word leerders aan asbes blootgestel. Rise Mzansi se leier, Songezo Zibi, het aan die Nasionale Vergadering gesê die regering moet voorkeur gee aan geestesgesondheidsondersteuning vir leerders, en stel voortgesette berading voor vir ‘n spesifieke tydperk nadat die uitslae aangekondig is:
# ‘n Italiaanse branderryer is dood nadat sy deur ‘n swaardvis deurboor is aan die kus van Wes-Sumatra in Indonesië. Die 26-jarige Giulia Manfrini het gesterf ondanks die dapper pogings van haar metgesel, personeel van die plaaslike vakansieoord en dokters om haar lewe te red. Volgens ‘n mediese verslag het sy ‘n steekwond van vyf sentimeter aan die linkerkant van haar bors opgedoen.
# Rugby: Die All Blacks het ‘n nuwe kaptein vir Saterdag se toets teen Japan. Die slot Patrick Tuipulotu sal die span aanvoer terwyl die gereelde kaptein, Scott Barrett, nie na Yokohama reis nie. Damian McKenzie vervang Beauden Barret op losskakel en die skrumskakel, Cam Roigard, speel die eerste keer vanjaar vir die span. Die gewese kaptein, Sam Cane, begin as losvoorspeler in sy 101ste toets. Nieu-Seeland se jaareindtoer sluit ook toetse teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-836-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-755-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….