Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die vordering met vervolging van mense wat by korrupsie betrek word
# Ramaphosa beantwoord vrae in die Parlement, insluitend oor minister Simelane
# En, krieket: Die Protea-vroue se kaptein sê Australië kan geklop word
# Cosatu is bemoedig deur die vordering om mense te vervolg wat by korrupsie betrek word. Die ANC se gewese nasionale woordvoerder, Pule Mabe, het gister in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en geldwassery. Dit hou verband met ‘n tender van 27-miljoen-rand wat die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Maart 2017 aan sy maatskappy, Enviro-Mobi, toegeken het. Woordvoerder Zanele Sabela sê Cosatu neem kennis van Mabe se besluit om opsy te staan as lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee:
# President Cyril Ramaphosa sal vandag vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Dit sluit in die werking van die regering van nasionale eenheid, die stryd teen georganiseerde misdaad, waaronder afpersing, en die uitkoms van die onlangse Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies. Daar sal ook druk op die president wees oor die minister van Justisie, Thembi Simelane, wat te doen het met aansprake van wanoptrede rakende die nou gelikwideerde VBS-bank. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president sal binnekort ‘n besluit oor die minister neem:
# Die EFF sê hy is geskok dat Suid-Afrikaanse burgers sonder enige gevolge deelneem aan die volksmoord op Palestyne. Die 22-jarige Suid-Afrikaner Aaron Bayhack word in ‘n dokumentêr op Al Jazeera, The Ghost Unit, uitgeken as ‘n skerpskutter in die Israelse Besettingsmag. Lede van die eenheid het erken hulle het burgerlikes in Gaza doodgemaak. Die EFF sê hy het die Nasionale Vervolgingsgesag en die Departement van Verdediging genader om die saak te ondersoek omdat enigiemand wat by die Besettingsmag aansluit, die wet oortree en vervolg moet word.
# Krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, glo hulle het die talent om vandag die verdedigende kampioen, Australië, in Dubai te klop in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die twee spanne het verlede jaar op Nuweland in Kaapstad in die eindstryd kragte gemeet toe Australië sy sesde titel gebuit het na ʼn oorwinning met 19 lopies. Die ander halfeindstryd vind môre plaas tussen die Wes-Indiese Eilande en Nieu-Seeland. Wolvaardt sê hulle sal hul beste spel moet opdis:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-211-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-681-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en slegs deur sonkrag aangedryf word, het die rit van Kenia na Stellenbosch voltooi. Navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese en ʼn elektriese beweeglikheidsmaatskappy in Kenia, Roam, het die motorfiets ontwikkel. Die reis van sowat ses-duisend-kilometer het deur Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië en Botswana tot in Suid-Afrika gelei. Roam se woordvoerder, Masa Kituyi, sê dit bewys skoon energie dryf nie net voertuie aan nie, maar beteken ook ʼn meer rooskleurige en volhoubare toekoms vir die vasteland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….