Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Al vier verdagtes in die Lusikisiki-massamoord is nou in hegtenis geneem
# Die GOOD-party steun die beroep dat Chris Brown nie in Suid-Afrika moet optree nie
# En, rugby: Die All Blacks verloor drie voorspelers vir die jaareindtoer van vyf toetse
# Die laaste drie gesoekte verdagtes wat verbind word met verlede maand se moord op 18 mense in Lusikisiki in die Oos-Kaap is vanoggend aangekeer. Die inhegtenisnemings volg minder as 24 uur nadat die polisie die hulp van die publiek gevra het met die opspoor van die verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 31. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle gaan nie in dié stadium onthul waar hulle aangetref en in hegtenis geneem is nie omdat dit die ondersoek in die wiele kan ry:
# Die GOOD-party veroordeel die Amerikaner Chris Brown se beplande konserte in Suid-Afrika. Daar is sterk teenstand teen die musikant se optrede in Suid-Afrika weens sy beweerde geskiedenis van mishandeling. Die vroueregte-aktivistegroep, Vroue vir Verandering, het die organiseerder, Big Concerts, en die borge gevra om die konserte af te las, en dat Binnelandse Sake Brown se visum moet herroep om te keer dat hy optree. GOOD sê daar is ‘n verantwoordelikheid om te bewys die land is ernstig oor geslagsgeweld.
# Die saak teen die woordvoerder van die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement, Sizwe Kupelo, oor bewerings van ‘n vals matrieksertifikaat wat gebruik is om ʼn regeringspos los te slaan, is tot Maart 2025 uitgestel. Kupelo is in April aangekeer en het vlugtig in die Landdroshof in Oos-Londen verskyn. Die vertraging met die saak is weens logistieke uitdagings met die staatsaanklaer. Kupelo is uit op borgtog van 30-duisend-rand. Hy word aangekla van bedrog, vervalsing en valse voorstelling ten opsigte van sy aanstelling by die provinsiale regering in 2002.
# Rugby: Die All Blacks moes weens beserings drie veranderings aanbring aan hulle groep vir die jaareind-toer, waar hulle te staan kom teen Japan, Engeland, Ierland, Frankryk en Italië. Die losvoorspelers Ethan Blackadder, Luke Jacobson en Dalton Papali’I is almal beseer. Die nuwelingflank Peter Lakai en Waikato Chiefs se slot, Josh Lord, is gevoeg by die groep wat reeds afgeskaal is van 36 tot 35 spelers. Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, sê die beserings bied geleenthede vir ‘n paar ander spelers:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-65-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-675-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut maan mense om versigtig te wees wanneer die volmaan-springgety môre ‘n hoogtepunt bereik. Die NSRI sê die gety-toestande kan lei tot sterk seestrome en hoë deinings wat ‘n gevaar inhou vir strandgangers en watersport-geesdriftiges. Woordvoerder Craig Lambinon raai mense aan om ingelig te bly oor plaaslike toestande, gevaarlike gedrag naby die water te vermy en veiligheidswaarskuwings te gehoorsaam:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….