Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng eis ‘n ondersoek na die vermeende voedselvergiftiging van 74 matrieks
# Die kabinet wens die Klas van 2024 voorspoed toe vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen
# En, motorsport: Toyota keer terug na F1 in ‘n nuwe tegniese vennootskap met Haas
# Die DA in Gauteng eis ‘n onmiddellike ondersoek nadat 74 matriekleerders aan die Wes-Rand in die hospitaal beland het omdat hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het. Die leerders van Fochville Secondary School, Badirile Secondary School en Wedela Technical School het ʼn matriekkamp bygewoon toe hulle maagkrampe en diarree gekry het. ʼn DA-woordvoerder, Sergio Isa dos Santos, sê dis onaanvaarbaar dat matrieks wat vir hul eindeksamen voorberei, nou weens nalatigheid in die hospitaal is:
Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê intussen die kabinet wens die Klas van 2024 voorspoed toe vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wat op 21 Oktober begin. Sy sê die kabinet steun die leerders en erken hulle pogings en die belangrikheid van die eksamen vir hulle toekomstige geleenthede. Ntshavheni het matrieks aangemoedig om gefokus en vol vertroue te bly, want harde werk en toewyding is noodsaaklik in hierdie moeilike tyd:
# Die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, moedig Amerikaners aan om volgende maand vir vise-president Kamala Harris te stem en sê die land het nie nog vier jaar van Donald Trump nodig nie. Hy het sy eerste verskyning op die verkiesingsveldtog vir Harris gemaak en ‘n saamtrek in Pennsilvania toegespreek. Die uitslag van die presidentsverkiesing sal na verwagting deur ‘n handjievol state bepaal word, insluitend Pennsilvania. Obama het sy opvolger as ‘n selfsugtige politikus beskryf wat slegs vir sy ego, geld en status omgee:
# Motorsport: Haas en Toyota het ooreengekom op ʼn tegniese vennootskap oor die volgende paar jaar. Die Japannese vervaardiger keer ná 15 jaar terug na Formule Een. Toyota wat sy eie werkspan het, sal deur sy Toyota Gazoo Racing-afdeling Haas se amptelike tegniese vennoot word. As deel van die ooreenkoms sal Toyota die ontwerp, tegniese en vervaardigingsdienste verskaf terwyl Haas tegniese kundigheid en handelsvoordele bydra. Toyota se Gazoo-kenteken sal volgende week op Haas se renmotors verskyn op die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-657-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die Forum vir Inligting, Kommunikasietegnologieë en Mediareguleerders is gestig om die privaatheid van data aan te pak en verbruikers teen skadelike inhoud te beskerm. Die forum sluit in die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, die Rolprent- en Publikasieraad, die Owerheid vir Domeinname en die Inligtingsreguleerder. Die voorsitter van die rorum, Tshiamo Maluleka-Disemelo, sê deur hierdie instellings te verenig wil die forum ’n veiliger omgewing skep en verseker die regte van Suid-Afrikaners word beskerm te midde van ’n toenemend ingewikkelde aanlyn landskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….