Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisievrou van Limpopo word aangekeer vir die beweerde moord op ses mense vir versekeringsbedrog
# Die VF Plus sê ActionSA het die bestendigheid in Tshwane omgekrap
# En Orkaan Milton veroorsaak chaos in Florida
# ‘n Drie-en-veertigjarige polisiesersant van Limpopo is in hegtenis geneem vir die beweerde moord op ses mense vir versekeringsbedrog. Die slagoffers is tussen 2019 en April vanjaar vermoor in verskeie dele van die provinsie. Daar word beweer die sersant het voordeel getrek uit versekeringspolisse ter waarde van meer as tien-miljoen-rand. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê sy sal môre in die Distrikshof in Polokwane verskyn op ses aanklagte van moord en 17 van bedrog:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê ActionSA se konstante heuling het die standvastigheid van die metro in gevaar gestel deur dit in die hande van ‘n regering te plaas wat reeds bewys het dat hulle nie die pyp kan rook nie. Nisiphi Moya is as burgemeester verkies op gister se raadsvergadering. Die VF Plus sê die vorige koalisie het baie hard gewerk om Tshwane te herstel en weer op te bou, en daar is twyfel of die nuwe administrasie die goeie werk sal voortsit.
# Talle sterftes is by ‘n ontspanningsoord in die St Lucie-distrik aan Florida se ooskus aangemeld nadat Orkaan Milton die land naby Siesta Key bereik het as ʼn gevaarlike kategorie 3-storm. Dit het intussen verswak tot ʼn kategorie 2-storm. Die orkaan het meer as twee-miljoen mense in die staat sonder krag gelaat. St Lucie se polisiehoof, Keith Pearson, het aan ABC News gesê dis in hierdie stadium nie seker hoeveel sterfgevalle daar is nie:
# Sokker: Sheffield United se voormalige verdediger, George Baldock, is op 31-jarige leeftyd dood. Die Griekse burger wat in Engeland gebore is, is in sy huis se swembad in Athene aangetref. Baldock het vroeër vanjaar by die Griekse span, Panathinaikos, aangesluit ná sewe jaar by Sheffield United. Hy het vier keer vir die klub uitgedraf en was Sondag in hulle kragmeting teen Olympiakos wat doelloos geëindig het. Baldock het Griekeland 12 keer internasionaal verteenwoordig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-844-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-616-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Een van die laaste oorlewendes van die konsentrasiekamp by Auschwitz-Birkenau, die 100-jarige Lily Ebert, is in Londen oorlede. Sy was 20 jaar oud toe sy uit haar tuisdorp in Hongarye na die konsentrasiekamp gedeporteer is. Haar agterkleinseun, Dov Forman, sê Ebert se ma, jonger suster en broer is in die gaskamers dood en sy het beloof om haar storie te vertel. Forman het ‘n topverkoper saam met sy oumagrootjie geskryf, getiteld Lily’s Promise. Sy is in Januarie 2023 met ‘n MBE vereer vir haar dienste aan opvoeding oor die Joodse volksmoord.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….