Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verhoor begin van 10 mense wat verbind word met moorde by die Universiteit van Fort Hare
# Krieket: Temba Bavuma kan die toetsreeks teen Bangladesj misloop met ‘n besering
# En die wenner of wenners van die Nobelprys vir Fisika word vandag aangekondig
# Die verhoor van tien mense wat van moord en poging tot moord by die Universiteit van Fort Hare aangekla word, begin vandag in die Hooggeregshof in Bhisho in die Oos-Kaap. Hulle staan tereg vir die moord op die instelling se vlootbestuurder, Petrus Roets, en die lyfwag van visekanselier Sakhela Buhlungu, Mboneni Vesele. Hulle word ook aangekla van poging tot moord op Buhlungu en sy adjunk, Renuka Vithal, asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Onder die aangeklaagdes is die hoof van ondersoeke en keuringsdienste, Isaac Plaatjies.
# Die African Transformation Movement doen ‘n beroep vir die skepping van ‘n gesamentlike nasionale operasie om dwelmsindikate hok te slaan, afpersers vas te trek, bendegeweld te bestry, wapens te verwyder en onwettige besettings te bekamp. Dit volg na twee massa-skietvoorvalle in Lusikisiki en Qumbu in die Oos-Kaap waarin altesaam 24 mense dood is. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê dit is noodsaaklik dat die regering genoeg geld beskikbaar stel om gemeenskaps-polisieforums te versterk:
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, het herhaal dat Israel die reg het om homself te verdedig, maar volgens haar maak dit saak hoe hy dit doen. Tydens Hamas se aanval op Israel op sewe Oktober verlede jaar is een-duisend-200 mense vermoor, wat 46 Amerikaanse burgers insluit. Sowat 250 is gyselaar geneem. Israel se wraakaanvalle het volgens berigte gelei tot die dood van byna 42-duisend Palestyne. Harris het in ‘n onderhoud op CBS News’ 60 Minutes gesê ʼn skietstilstand in Gaza en Libanon is dringend nodig:
# Krieket: ‘n Besering kan die kaptein van die Protea, Temba Bavuma, uit die reeks van twee toetse teen Bangladesj hou wat die 21ste begin. Hy het Vrydag sy elmboog beseer in die tweede eendagwedstryd teen Ierland in Abu Dhabi en gister se laaste wedstryd misgeloop, toe Rassie van der Dussen die span aangevoer het. Dit is dieselfde probleem wat Bavuma twee jaar gelede ʼn lang ruk van die veld gehou het. Die spelers keer vandag terug van die Verenigde Arabiese Emirate en Bavuma sal dan ʼn spesialis raadpleeg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-261-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-632-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Afwagting bou op met die Nobelprys vir Fisika wat vandag bekend gemaak word. Dit volg op die toekenning vir Fisiologie of Medisyne aan die Amerikaanse wetenskaplikes, Victor Ambros en Gary Ruvkun, vir hulle ontdekking van mikroRNA. Die sekretaris-generaal van die Nobelraad, Thomas Perlmann, sê dit verteenwoordig die volgende fase van Nobelweek waar wêreldveranderende ontdekkings in verskeie dissiplines erkenning kry:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….