Nuus 12:00
BULLETIN 7 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Patriotic Alliance lê ‘n strafregtelike klagte teen die ‘Open Chat Podcast’ oor rassistiese opmerkings
# Tien Gautengse geregsdienaars verskyn in die hof vir diefstal
# En ‘n 90-jarige man behaal ‘n graad aan die Universiteit van Johannesburg
# Die Patriotic Alliance het ‘n strafregtelike klagte ingedien teen die aanbieders van Open Chat Podcast, Mthokozisi Methula en Sinothando Kama. Hulle het beledigende aanmerkings oor die bruin gemeenskap gemaak wat in ‘n episode op sosiale media verskyn het en wyd versprei is. Die aanbieders het intussen om verskoning gevra vir die opmerkings en die bespreking uit die episode gehaal. Die leier van die PA, Gayton McKenzie, sê hulle gaan die twee ook na die Gelykheidshof neem vir onwettige diskriminasie:
Die GOOD-party sê intussen dis ‘n pynlike feit dat Suid-Afrika na drie dekades van demokrasie steeds op rasse- en etniese gebied verdeel is. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê om beledigende en rassistiese aanmerkings teen die bruin gemeenskap te maak is nie net ongehoord nie, maar ook uiters beledigend:
# Tien beamptes van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement en die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat aangekeer is oor bewerings van korrupsie en diefstal, is op borgtog van een-duisend-500-rand vrygelaat. Hulle het in Germiston se Landdroshof verskyn. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê die groep het na bewering tydens ‘n klopjag in Junie 35-duisend-rand by ʼn winkel aan die Oos-Rand geneem:
# Tennis: Die Amerikaner Ben Shelton kom teen Karen Khachanov van Rusland te staan in die eindstryd van die Kanadese Ope in Toronto. Shelton het sy landgenoot Taylor Fritz verslaan om sy eerste ATP-een-duisend-eindstryd te bereik en Khachanov het die topgekeurde Duitser, Alexander Zverev, verslaan. In die vroue-toernooi in Montreal het die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka, vir Clara Tauson van Denemarke verslaan om haar eerste WTA-een-duisend-toernooi sedert 2022 te haal. Die Japanner speel teen die plaaslike tiener Victoria Mboko wat Elena Rybakina van Kazakhstan uitgeskakel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-en-75-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-78-sent per vat.
# En laastens, die negentigjarige Caspar Greeff het sy BCom-graad in Rekeningkunde aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Greeff, wat eers ‘n aktuaris was, het aanlyn studeer en die tegnologiese uitdagings met behulp van dosente en sy dogter oorbrug. Hy is nou ‘n simbool van deursettingsvermoë en bewys dit is nooit te laat om te leer nie. UJ sê sy prestasie beklemtoon die krag van inklusiewe akademiese geleenthede. Greeff sê dissipline en nuuskierigheid is op enige ouderdom die geheime tot sukses.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….