Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê die regering moet sy belofte oor ‘n brandstofprys-hersiening nakom
# ActionSA verwelkom die vonnis van Steinhoff se gewese finansiële hoof
# En, motorsport: Brad Binder behaal die vinnigste tyd in oefeninge vir die Japanese MotoGP
# Cosatu sê die regering moet sy verbintenis nakom tot die hersiening van die brandstofprysformule en die huidige mandjie van goedere wat vrygestel is van BTW. President Cyril Ramaphosa het hom in Julie daartoe vebind en gesê die regering van nasionale eenheid sal ‘n hersiening van die brandstofprys van stapel stuur. Matthew Parks van Cosatu sê die taak is nou baie dringender met Israel se oorlog teen Libanon wat die olieprys waarskynlik weer skerp sal laat styg:
# ActionSA verwelkom die vonnisoplegging van Steinhoff se voormalige finansiële hoof, Andries la Grange. Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het. Dit hou verband met bedrog van 367-miljoen-rand en spruit uit die manipulering van finansiële state en versuim om bedrieglike bedrywighede aan te meld. Alan Beesley van ActionSA sê hulle hoop dit lei tot bewyse sodat ander wat hierby betrokke was, ook suksesvol vervolg word:
# Die Wes-Kaap het sedert Junie verlede jaar meer as 1,8-miljard-rand se vloedskade aan sy paaie opgedoen. Talle paaie binne die provinsie se padnetwerk van 32-duisend-202 kilometer is gesluit, wat die hertoewysing van hulpbronne genoodsaak het om te verseker dat strategiese roetes veilig en toeganklik bly. Die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor Infrastruktuur, Dirk Wessels, sê dié kommerwekkende syfer onderstreep die diepgaande uitwerking van klimaatsverandering op die ontwerp, bou, instandhouding en bedryf van die padinfrastruktuur.
# Motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika het die vinnigste tyd in die oefeninge behaal vir die Japanese MotoGP, met die voorloper in die kampioenskap, Jorge Martin van Spanje, derde vinnigste. Binder, op sy Red Bull KTM, het die vinnigste rondetyd behaal en die sesmalige wêreldkampioen, die Spanjaard Marc Marquez, die tweede vinnigste. Martin is met vyf wedrenne oor 21-punte voor sy naaste teenstander, Francesco Bagnaia. Die Italianer is die verdedigende wêreldkampioen en was die sewende vinnigste.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-372-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Onontplofde Amerikaanse bom uit die Tweede Wêreldoorlog het op die Miyazaki-lughawe in die suidweste van Japan ontplof en ʼn reusekrater in die aanloopbaan veroorsaak. Niemand is beseer nie, maar meer as 80 vlugte is gekanselleer. Miyazaki-lughawe is in 1943 gebou as ʼn opleidingsvliegveld, vanwaar sommige kamikaze-vlieëniers opgestyg het op hulle selfmoordsendings. ʼn Aantal onontplofde Amerikaanse bomme is in die gebied opgegrawe. Honderde onontplofde bomme lê steeds regoor Japan begrawe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….