Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement kritiseer Mkhwebane se verregaande aanval op amptenare
# ‘n Amerikaanse dokter pleit skuldig aan aandadigheid aan die Friends-akteur Matthew Perry se dood
# En, krieket: Nog ellende vir Pakistan nadat kaptein Babar Azam bedank
# Die Parlement sê hy is verstom oor die ongegronde uitsprake van die voormalige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Die Appèlhof het haar appèl van die hand gewys teen ‘n uitspraak deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof in verband met haar afdankings-ondersoek. Mkhwebane het op sosiale media gesê mense van Indiese afkoms was voortdurend betrokke by haar voortgesette stryd teen haar ontslag. Sy noem spesifiek die ondersoek se getuienisleier, Nazreen Bawa, en die Parlement se hoofregsraadgewer, Zuraya Adhikarie. Woordvoerder Moloto Mothapo sê Mkhwebane se aanvalle is verregaande:
# Sestig-persent van Suid-Afrikaners glo die regering van nasionale eenheid werk goed, terwyl 28-persent glo dit vaar sleg. Dit blyk uit ‘n peiling deur die Stigting vir Maatskaplike Navorsing, wat ook verkiesingsteun vir partye binne die koalisieregering vasgestel het. Daar is bevind steun vir veral die ANC en die DA het met tot tien-persent gestyg. Gabriel Makin van die stigting sê een van die hoofredes vir die positiewe gevoel is dat die regering van nasionale eenheid doeltreffend aandag gee aan die kommer van die middelklas.
# Cosatu het die regering se verbintenis verwelkom om die getal arbeids-inspekteurs oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk van twee-duisend tot 20-duisend te verhoog. Dit sal die regering in staat stel om deeglike oudits en inspeksies reg deur die land uit te voer. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hierdie dapper stap sal seker maak dat miljoene werkers hulle regte kan uitoefen en die wet se beskerming geniet:
# ‘n Kaliforniese dokter, Mark Chavez, het skuldig gepleit aan sameswering om ketamien te versprei na die dood van die Friends-akteur Matthew Perry. Ketamien word gebruik om depressie, angstigheid en pyn te behandel. Chavez is die derde persoon wat wanoptrede erken in Perry se dood, wat toegeskryf is aan ‘n oordosis ketamien. Die akteur is in Oktober verlede jaar dood aangetref in ‘n borrelbad op sy stoep. Chavez het erken hy het ketamien in die hande gekry by sy vorige kliniek en ‘n groothandelaar waar hy ‘n bedrieglike voorskrif ingedien het.
# Krieket: Pakistan se witbalspan is leierloos na kaptein Babar Azam se bedanking, wat ‘n bestuurskrisis vererger wat volgens kenners die span se internasionale prestasie in al die formate erg raak. Azam het sy bedanking op sy persoonlike sosiale media aangekondig voor die Pakistanse Krieketraad 12 uur later ‘n amptelike verklaring uitgereik het. Pakistan het die afgelope twee jaar vier afrigters, drie raadsvoorsitters en vier kapteins gehad en teen die internasionale rangleer afgegly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-597-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-644-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….