Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming vra ‘n ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag se prestasie en onafhanklikheid
# TLU SA is gekant teen Eskom se voorgestelde tariefverhoging
# En, rugby: Argentinië het steeds ‘n buitekans om die Rugbykampioenskaptitel in te palm
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ʼn afgetrede regter aan te stel om ʼn dringende ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag te lei. Dit moet die gebrek aan prestasie en verwoestende uitwerking van staatskaping ondersoek wat die vervolgingsgesag lamlê en ondersoeke na hoëprofiel-korrupsie kniehalter. Die sentrum se woordvoerder, Ann Bernstein, sê die teleurstellende vertoning van die NVG veroorsaak ʼn oorheersende gevoel van wanhoop dat die staat nie die wet kan toepas nie:
# Die landbou-unie TLU SA sê hy is gekant teen Eskom se voorgestelde tariefverhogings omdat dit ʼn onaanvaarbare las is wat verbruikers nie behoort te dra nie. Die kragverskaffer het by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika aansoek gedoen vir ʼn tariefverhoging van 36,15-persent in die 2026-boekjaar; 11,81-persent in 2027; en 9,1-persent in 2028. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê voor enige tariefverhoging oorweeg word, moet Eskom eers sy struktuur omvattend hersien:
# Die Britse polisie doen ‘n beroep op alle moontlike slagoffers van beweerde seksuele mishandeling deur Mohamed al-Fayed om na vore te kom. Londen se Metropolitaanse Polisiemag sê in ‘n verklaring hulle moet verseker alle slagoffers het die vertroue om met hulle te praat oor die ontslape eienaar van Harrods. Vyf vroue wat by die luukse afdelingswinkel gewerk het, beweer Al-Fayed het hulle verkrag, met verskeie ander voormalige werknemers wat ook seksuele wangedrag beweer. Die polisie ondersoek tot dusver 19 bewerings van misdade waarby Al-Fayed betrokke is. Vyftien is van seksuele aanranding en een hou verband met mensehandel.
# Rugby: Argentinië het steeds ʼn buitekans om die Rugbykampioenskap in te palm wanneer hulle môre in Mbombela teen die Springbokke te staan kom. Hulle benodig egter ʼn bonuspunt-oorwinning oor die viermalige wêreldkampioen, wat hulle moet verhinder om enige ranglyspunte te verdien. Die Pumas se hoofafrigter, Felipe Contepomi, het sewe veranderings aangebring aan die span wat die Bokke verlede week in Argentinië verras het, met Santiago Grondona onder meer in die plek van die beseerde flank Marcos Kremer, en die voortreflike slot Thomas Lavanini terug in die opdrafspan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-576-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-664-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Afgetredenes in Suid-Afrika loop ʼn groter gevaar vir kubermisdaad as gevolg van ʼn kunsmatige-intelligensie-instrument wat gesofistikeerde slenters toelaat. FraudGPT laat enigeen toe om ʼn kubermisdaad te pleeg deur hoogs ontwikkelde uitvissing-e-posse te skep, kuberkraak-gereedskap te bou en swakplekke in IT-stelsels op te spoor. Die aktuaris en skadevergoedingkenner, Gregory Whittaker, sê kubermisdadigers teiken gewoonlik afgetredenes omdat hulle waarskynlik toegang tot kapitaal het deur hul aftreegeld. Hy sê dis noodsaaklik dat pensioentrekkers ingelig word oor hierdie soort slenters en strategieë bekom om die risiko’s te bekamp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….