Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zelensky bedank Ramaphosa vir sy steun aan Oekraïne vir die behoud van sy grondgebied
# Die MK-party loop die hof se sperdatum mis vir sy strafkostebevel in sy verkiesingsbedrogsaak
# En, rugby: Sam Cane gaan sy 100ste toets vir die All Blacks teen Australië speel
# Die president van Oekraïne, Volodimir Zelensky, het president Cyril Ramaphosa en Suid-Afrika bedank vir sy steun vir die behoud van sy grondgebied te midde van die oorlog met Rusland. Die twee leiers het by die Verenigde Nasies se Toekoms-spitsberaad in New York ontmoet. Zelensky benadruk dat die eenheid van wêreldleiers die enigste manier is om die Russiese president, Vladimir Putin, te dwing om die oorlog te stop:
# Die MK-party het die Verkiesingshof se sperdatum misgeloop waarop hy betooghoofde moes indien waarom hy nie ‘n strafkostebevel moet kry omdat hy sy verkiesingsbedrogsaak laat vaar het nie. Die party het sy saak oor die geldigheid van Mei se verkiesing teruggetrek nadat hy beweer het meer as 9,3-miljoen stemme is nie getel nie. Hy het ook beweer hy het bewyse van ernstige onreëlmatighede. Die OVK het in hofdokumente gesê MK het nooit bewyse van verkiesingsbedrog gehad nie, maar volgehou om skandalige en skadelike bewerings te maak.
# Die Switserse polisie het verskeie mense aangekeer nadat ‘n omstrede kapsule ontwerp om die insittendes toe te laat om selfdood te pleeg die eerste keer gebruik is. Aanklaers in die noordelike kanton Schaffhausen, wat grens aan Duitsland, het strafregtelike sake teen verskeie mense geopen vir die aansporing en aanmoediging van selfdood. ‘n Woordvoerder van die groep wat die kapsule ontwerp het, The Last Resort, sê die oorledene was ‘n 64-jarige Amerikaanse vrou met ‘n erg-aangetaste immuunstelsel . Die groep sê die vrou se dood was vreedsaam, vinnig en waardig.
# Rugby: Sam Cane sal Saterdag sy 100ste toets vir Nieu-Seeland speel nadat hy ingesluit is in die opdrafspan vir die laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië in Wellington. Beauden Barrett is weer gesond en keer terug op losskakel, terwyl skrumskakel TJ Perenara vir Cortez Ratima vervang. Op binnesenter vervang Anton Lienert-Brown vir Jordie Barrett, wat ʼn kniebesering het. Damian McKenzie sal op die bank wees. Afrigter Scott Robertson sê hulle sou graag die kampioenskap wou wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-775-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-667-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Sterrekundiges het twee reusestrale waargeneem wat uit ʼn reusagtige swart gat 7,5-miljard ligjare van die aarde af vrygestel word. Die megastruktuur is 23-mijoen-ligjare lank wat dit die grootste swart gat maak wat nog waargeneem is. Die strale het ʼn kraguitset gelykstaande aan miljoene-miljarde sonne. Die ontdekking laat sterrekundiges herbesin oor hoe uiters groot strale uit ʼn swart gat kan wees asook hoe hierdie reuse-eienskappe hulle omgewing en die struktuur van die heelal kan beïnvloed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….