Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke SA het 21-persent ongevulde poste met begrotingsbesnoeiings en ‘n personeel-exodus
# Cosatu vra die Reserwebank om koers te verlaag te midde van inflasie-verligting
# En, rugby: Die All Black-span teen die Wallabies word aangekondig
# Statistieke Suid-Afrika sit met ’n vakaturekoers van 21-persent weens begrotingsbesnoeiings en ’n verbod op nuwe aanstellings. Die Statistikus-Generaal, Risenga Maluleke, het aan die Parlementêre staande komitee oor Toewysings gesê personeeltekorte, verouderde tegnologie en vertragings met data-insameling, insluitend die dekade lange gebrek aan data oor armoede, wek kommer. Hy het onthul dat ten spyte van bedankings is daar tussen 2016/2017 en 2021/2022 net een aanstelling gemaak weens die verbod. Maluleke het ‘n bykomende 295-miljoen-rand oor die volgede drie jaar van die Nasionale Tesourie aangevra.
# Cosatu doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank om rentekoerse te verlaag wanneer die Monetêre Beleidskomitee vandag vergader. Cosatu glo ‘n koersverlaging is nodig om die ekonomie te stimuleer en broodnodige verligting te bied, nadat inflasie tot 4,4-persent gedaal het en die ekonomiese aanwysers positief lyk. Zanele Sabela van Cosatu voer aan werkers wat aanhoudende finansiële swaarkry verduur, het verligting nodig om wydverspreide armoede te beveg:
# Die ANC-leierskap in Gauteng het volgens berigte nog ʼn kans gekry om die party te oortuig waarom dit met ander partye ʼn koalisie moet vorm om die DA in Tshwane te ontsetel. Die ANC se provinsiale sekretaris, TK Nciza en voorsitter Panyaza Lesufi, het hulle saak aan die nasionale werkkomitee voorgelê, maar is teruggestuur na die tekenbord. Volgens berigte beraadslaag die party tans met verskeie partye oor ʼn nuwe magsdelingsooreenkoms. Dit sluit ActionSA, die EFF en selfs die DA in.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, doen ‘n beroep vir ‘n einde aan die toenemende geweld in die Midde-Ooste, en sê alle partye moet maksimum selfbeheersing aan die dag lê. Dit volg ná ontploffings van tweerigtingradios wat aan die militante groep Hisbolla behoort, waartydens meer as 30 mense omgekom het en meer as drie-duisend oral in Libanon beseer is. Israel word hiervoor beskuldig. Guterres sê dit is onaanvaarbaar dat onskuldige burgerlikes steeds in die kruisvuur vasgevang word:
# Rugby: Stut Ethan de Groot, vleuel Caleb Clarke en heelagter Beauden Barrett is terug in die All Blacks se begin-15-tal vir Saterdag se eerste Bledisloe-beker-wedstryd in Sydney. Afrigter Scott Robertson het vier veranderings aangebring. Will Jordan skuif na regtervleuel, Sevu Reece is reserwe, terwyl Barrett na die heelagterposisie skuif. Die Nieu-Seelanders spog sedert 2003 met die Bledisloe-beker en is die gunstelinge om vanjaar weer die trofee te wen. Robertson verwag ʼn taai kragmeting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-149-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-583-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….