Nuus 12:00
BULLETIN 18 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsdiensvakbond verwelkom skorsing van WVF-kommissaris te midde van korrupsiebewerings
# Green Connection sê verlenging van Koeberg se leeftyd is ’n roekelose waagstuk
# En, krieket: Markram neem by Bavuma oor vir Proteas se eendagwedstryd teen Afghanistan
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die skorsing van die Werkloosheidsversekeringsfonds se kommissaris, Tebogo Maruping, oor beweerde korrupsie en magsmisbruik. Maruping word beskuldig van sy betrokkenheid by ‘n twyfelagtige ooreenkoms van vyf-miljard-rand met Thuja Holdings. Claude Naiker van die vereniging prys die besluit en sê korrupsie binne die fonds benadeel kwesbare burgers en moet nie geduld word nie:
# Die Green Connection sê die verlenging van die Koeberg-kernkragstasie se leeftyd is ‘n roekelose dobbelspel met openbare veiligheid. Die kernaanleg se eenheid een is verlede Woensdag onverwags afgesit. Eskom het onlangs onderhoudwerk aan die eenheid gedoen waarna die Nasionale Kernreguleerder dit in Julie ʼn bedryfslisensie vir die volgende 20 jaar toegestaan het. Green Connection se woordvoerder, Liz McDaid, sê die besluit om Koeberg se leeftyd te verleng, is vol dodelike foute:
# Sedert die begin van Rusland se volskaalse inval in Oekraïne, is ʼn geraamde 80-duisend Oekraïnse soldate dood en 400-duisend gewond. Volgens die Washington Post kom die syfers van betroubare bronne, en uit data wat terugdateer na vroeër die jaar. Die Britse ministerie van Verdediging sê intussen meer as 600-duisend Russiese soldate is na raming sedert die begin van die oorlog dood of gewond.
# Krieket: Temba Bavuma is weens siekte nie deel van die geskiedkundige eerste eendagwedstryd teen Afghanistan wat vandag in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel word nie. Aiden Markram sal in sy plek die span aanvoer. Hierdie reeks eendagwedstryde is die eerste ontmoeting tussen Afghanistan en Suid-Afrika buite die Internasionale Krieketraad se toernooie. Die tweede wedstryd word Vrydag, ook in Sharjah, beslis. Dié reeks word gevolg deur ʼn reeks eendagwedstryde en T20’s teen Ierland in Abu Dhabi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-182-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-569-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
# En, die Stad Kaapstad het in samewerking met die Aartsbiskop Tutu-trust vir Intellektuele Eiendom aangekondig dat Lupin-park in Milnerton opgeknap en sy naam verander gaan word. Aartsbiskop Tutu het die park naby sy gesinswoning gereeld besoek. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hy hoop die opgeknapte park sal ‘n simbool word wat inwoners van Kaapstad aan Tutu se waardes sal herinner waarvolgens hy deurentyd geleef het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….