Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EU gee 628-miljoen-rand om Suid-Afrika se groenwaterstof-ontwikkeling te ondersteun
# Die DA in Gauteng sê die NGV is ‘n gevaarlike fantasie
# En, motorsport: McLaren kyk na maniere om sy renmotor se mededingendheid verder te ontgin
# Die Europese Unie sal twee toelaes van altesaam 628-miljoen-rand beskikbaar stel om die volhoubare ontwikkeling van groen waterstof-waardekettings in Suid-Afrika te ondersteun. Dit is bykomend tot die EU se Billike Energie-oordrag-vennootskap met die land. Die EU se energiekommissaris, Kadri Simson, sê die befondsing toon die groepering se Global Gateway-strategie in aksie waar dit slim, skoon en veilige verbindings in die energie- en die vervoersektor bevorder:
# Die DA in Gauteng sê die feit dat die land se rykste provinsie nie ‘n doeltreffende en versorgende openbare gesondheidstelsel kan bedryf nie, wys dat die Nasionale Gesondheidsversekering ʼn gevaarlike fantasie is. Dit volg nadat ʼn pasiënt in die Helen Joseph-hospitaal, Tom London, die haglike toestande en swak pasiëntesorg in ʼn video onthul het. Jack Bloom van die DA sê premier Panyaza Lesufi se leuens oor die NGV is ontbloot:
# Ouers van die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria is omgekrap oor wat hulle bestempel as ʼn rassisme-pandemie by die skool. ʼn Leerder is geskors nadat hy ‘n swart leerder die k-woord toegesnou het. Die pa sê die afknouery en rasse-belediging gee sy dogter selfdood-gedagtes. Die Gautengse Onderwysdepartement sê twee seuns wat by die voorval betrokke was, word van wangedrag aangekla en een is geskors. Die ouers sê die regering moet rassisme by skole aanpak, anders gaan gewelddadige haatmisdade opvlam.
# ‘n Besige brug in noord-Viëtnam het ineengestort weens die supertifoon Yagi. Minstens drie mense is gered en 13 word vermis nadat die Phong Chau-brug ineengestort het. ‘n Deel van die struktuur van 375-meter staan nog, en die Weermag is opdrag gegee om so gou moontlik ‘n pontbrug te bou. Yagi is Asië se kragtigste storm vanjaar. Meer as 60 mense is dood sedert die storm Viëtnam Saterdag getref het. Meer as 240 mense is beseer, terwyl sowat 1,5-miljoen steeds sonder krag is.
# Motorsport: Die hoof van McLaren se Formule Een-span, Andrea Stella, sê hulle moet die mededingendheid van hulle renmotor verder ontgin. Lando Norris van McLaren het Max Verstappen van Red Bull se kampioenskaps-voorsprong tot 62 punte verminder. Red Bull het nou ‘n voorsprong van agt punte teenoor McLaren op die vervaardigerspunteleer. Stella sê Ferrari se verbeterde vertoning is goed aangesien meer motors wat punte van Red Bull wegneem, positief vir sy span kan wees. Ná die naweek se Grand Prix in Azerbaijan is daar nog net sewe wedrenne oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-316-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….