Nuus 12:00
BULLETIN 5 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee sê die land se ekonomie is in ’n noodtoestand
# Die Lungu-familie se regsverteenwoordiger beweer daar is geen bewys dat die ontslape president in Zambië begrawe wou word nie
# En ‘n rekord-getal lande gaan die 80ste herdenking van die atoombom op Hiroshima bywoon
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee sê die land se ekonomie beleef ‘n noodtoestand en dringende optrede is nodig. Ekonomiese groei het in die eerste kwartaal verlangsaam met die bruto binnelandse produk wat ʼn geringe toename van 0,1-persent getoon het. Die ANC se president, Cyril Ramaphosa, het in sy slotopmerkings gesê dringende optrede is nodig om die strategiese voorkeure in die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan uit te voer:
# Die GOOD-party is bekommerd oor die voortslepende krisis van onwettige mynbedrywighede in Suid-Afrika en die staat se versuim om die kernoorsake en misdaad-meesterbreine te takel. Sedert Vrydag is meer as 500 onwettige mynwerkers uit die Sheba-myn in Barberton na die oppervlak gebring en in hegtenis geneem as deel van Operasie Vala Umgodi. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die regering kan nie voortgaan met ʼn reaktiewe en verkeerde benadering wat van desperate mense misdadigers maak en die baasbreine laat wegkom nie:
# Die regsverteenwoordiger van die ontslape Zambiese oudpresident, Edgar Lungu, se familie beweer daar is geen bewyse dat hy in sy vaderland begrawe wou word nie. Advokaat Casper Welgemoed het aan die Hooggeregshof in Pretoria gesê sulke bewerings is hoorsê en moet ignoreer word. Die Zambiese regering en die familie is in ‘n regstryd gewikkel oor sy laaste rusplek nadat hy op 5 Junie in Pretoria oorlede is. Die staat wil hê hy moet gerepatrieer word, maar die familie verkies ‘n privaat begrafnis in Suid-Afrika. Uitspraak word hierdie week verwag.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, speel in die Cincinnati Ope, sy eerste toernooi sedert hy Wimbledon verlede maand gewen het. Hy sal die topgekeurde wees wanneer die toernooi later die week begin. Die Italianer het aan die Kanadese Ope onttrek nadat hy die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, in Londen verslaan het. Die Spanjaard gaan by hom aansluit in Amerika, asook die plaaslike speler Taylor Fritz en die Duitser Alexander Zverev. Die toernooi is verleng na twee weke, met 96 spelers wat deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-198-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-59-sent per vat.
# En laastens: ‘n Rekord aantal lande en streke gaan môre die 80ste herdenking van die atoombomontploffing in Hiroshima bywoon, insluitend Rusland se bondgenoot, Belarus, en die nuwelinge Taiwan en verteenwoordigers van Palestina. Amerika het op 6 Augustus 1945 ‘n atoombom op die Japanse stad afgegooi, wat sowat 140-duisend lewens geëis het. Drie dae later het ‘n tweede bom Nagasaki getref, met bykans 74-duisend sterftes. Verteenwoordigers van 120 lande en streke word by die seremonie verwag. Dit sluit egter nie kernstate soos Rusland, China en Pakistan in nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….