Nuus 12:00
BULLETIN 10 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Caster Semenya wen ‘n geskiedkundige saak in die Europese Hof vir Menseregte
# Suid-Afrika hef die verbod op Brasiliaanse meganies-ontbeende vleis en hoender op
# En die DA in Ekurhuleni wil hê die Spresiale Ondersoekeenheid moet die vermiste twee-miljard-rand ondersoek
# Die Suid-Afrikaanse atleet Caster Semenya het haar saak gewen in die Europese Hof vir Menseregte. Die hof het 2023 se uitspraak gehandhaaf teen die Hof vir Arbitrasie in Sport wat teen die tweemalige Olimpiese 800-meter-kampioen beslis het. Daar is bevind die uitspraak het gediskrimineer nadat Semenya verbied is om deel te neem weens Wêreldatletiek se reëls oor testosteroon-vlakke. Die reëls is in 2018 ingestel en verbied deelname van atlete met verskille in geslags-ontwikkeling. Kenners sê die uitspraak kan geslags-beleid in sport hervorm en is ‘n reuse-oorwinning vir menseregte.
# Die Departement van Landbou het ná agt weke amptelik die verbod op Brasiliaanse meganies-ontbeende vleis en hoender opgehef. Die verbod is ingestel nadat voëlgriep op ‘n enkele plaas in Rio Grande do Sul ontdek is, wat veroorsaak het dat 95-persent van Suid-Afrika se meganies-ontbeende vleisvoorraad afgesny is. Georg Southey van Merlog Foods verwelkom die ooreenkoms tussen die departement en Brasiliaanse landbou-owerhede, maar waarsku so ‘n situasie kan weer kop uitsteek:
# Die DA in Ekurhuleni gaan die Spesiale Ondersoekeenheid nader om te kyk na die verdwyning van meer as twee-miljard-rand uit die metro se inkomste, en die beweerde verband met Mpho Mafole se moord. Die metro se voormalige afdelingshoof van forensiese ouditering het die saak ondersoek toe hy verlede maand vermoor is. Brandon Pretorius van die DA sê Ekurhuleni het na bewering die geld verloor as gevolg van ‘n inbraak by duisende elektrisiteitsrekeninge:
# Die KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, het vloedslagoffers wat uit die Bayside Hotel gesit is, versoek om tydelik na die Chesterville-gemeenskapsaal te verhuis. Die uitsetting volg op vertraagde betalings weens voldoeningsprosesse. Duma, wat met die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, vergader het, het bevestig dat 185-miljoen-rand tot dusver betaal is, met nog 128-miljoen-rand wat nodig is om een-duisend-200 gesinne te hervestig. Duma sê die regering kan nie huise herbou op grond wat nie geskik is en waar huise weggespoel het nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-289-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-320-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, die eerste benoemings vir die 52ste Daytime Emmy’s is bekendgemaak. Daar is vanjaar net drie benoemings in die kategorie vir beste dramareeks: General Hospital, Days of Our Lives en The Young and the Restless. Vier van die ses benoemdes vir beste aktrise in ‘n sepie is van The Young and the Restless: Sharon Case, Eileen Davidson, Melissa Claire Egan en Michelle Stafford. Benoemings vir beste geselsprogram sluit in The Drew Barrymore Show, The View, en Live with Kelly and Mark.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….