Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bedrog en korrupsie kry die skuld vir die ineenstorting van die Poskantoor
# Die regering takel misdaad want dis ‘n hindernis vir Chinese beleggings in Suid-Afrika
# En, sokker: Themba Zwane voer Bafana Bafana aan in twee Afrikabeker-kwalifiserende wedstryde
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, sê bedrog en korrupsie het gelei tot die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Poskantoor. Die staatsonderneming benodig ‘n reddingsboei van 3,8-miljard-rand van die regering om te voldoen aan die behoeftes van sy sakereddingsplan en om aan die gang te bly. Malatsi sê forensiese ondersoekers het growwe finansiële wanbestuur by die Poskantoor aan die lig gebring en verskeie sake sal na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys word:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en China het veerkragtige, uiteenlopende, en groeiende ekonomieë met ‘n ryke verskeidenheid van geleenthede vir sakeondernemings wat na nuwe markte wil uitbrei. Hy het vandag die Suid-Afrikaans-Chinese sakeforum in Beijing toegespreek. Bilaterale handel tussen die twee lande het sedert 2019 met ‘n derde toegeneem. Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid is op ‘n hervormingspad om meer beleggings te lok terwyl die oplossing van die misdaadprobleem voorkeur kry:
# Bergingsmaatskappye onder die beskerming van militêre magte van die Europese Unie probeer een van die wêreld se grootste omgewingsrampe keer. Houthi-rebelle het twee weke gelede die Griekse tenkskip MV Sounion in die Rooisee gebombardeer, en verskeie brande woed nog op die hoofdek. Die vaartuig dra ongeveer ‘n miljoen vate ruolie. Volgens BBC News sê die Amerikaanse Departement van Binnelandse Sake ‘n storting kan vier keer groter wees as die Exxon Valdez-ramp aan die kus van Alaska in 1989.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se ervare middelveld-ster, Themba Zwane, sal Bafana Bafana aanvoer in die Afrikabeker-kwalifiseerders teen Uganda en Suid-Soedan. Die gewone kaptein en doelwagter, Ronwen Williams, herstel van ‘n besering. Die nasionale span begin sy kwalifiseringsveldtog Vrydag op die Orlando-stadion teen Uganda en speel Dinsdag ʼn weg-wedstryd teen Suid-Soedan. Bafana se afrigter, Hugo Broos, wil hê die spelers moet opgewasse wees vir die taak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-752-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-480-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Die eerste bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Georg Meiring, is in die ouderdom van 85 oorlede. Hy was hoof van die Leër van 1990 tot ’93 en daarna die eerste hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag tot 1998. Meiring, bekend as een van die sogenaamde Groot Vyf-generaals van die Grensoorlog-era, het die Orde van die Ster van Suid-Afrika in goud en die Orde van die Wolk en Banier, vierde klas, van Taiwan ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….