Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF vra die regering om die verdeling van inkomste te hersien
# Die AA bevraagteken die aanstelling van die Franse maatskappy IDEMIA vir die nuwe slim-rybewyskaarte
# En, rugby: Die All Blacks wil positiewe aspekte in die tweede toets teen die Bokke verbeter
# Die EFF versoek die regering om sy verdeling van inkomste te hersien om voorrang te gee aan die befondsing van basiese dienste soos water en elektrisiteit. Munisipaliteite het aan die einde van Junie 22,4-miljard-rand aan waterrade geskuld. Woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê sakeondernemings in die privaat sektor dra by tot munisipaliteite se versuim om waterrade te betaal omdat hulle nie hulle waterrekenings vereffen nie. Volgens haar het die misplaaste fiskale raamwerk van die Nasionale Tesourie water- en elektrisiteitsvoorsiening bepaal as die belangrikste bron van inkomste vir munisipaliteite.
# Die Outomobiel-Assosiasie spreek kommer uit oor die Departement van Vervoer se aanstelling van die Franse maatskappy IDEMIA om die nuwe slim-rybewyskaarte te vervaardig. Die AA wys op onbeantwoorde vrae, waaronder die rol van die Regeringsdrukker en die rede vir die keuse van IDEMIA. Woordvoerder Layton Beard bevraagteken ook die geheimhouding rondom die tenderproses:
# Die voorste varsproduktemark in die Suider-Afrika-Ontwikkelingsgemeenskap-streek, die Johannesburgse mark, het verlede maand ‘n omset van 1,024-miljard-rand behaal. Dit is op dieselfde vlak as in April. Die mark se waarnemende bedryfshoof, Charles Park, sê die sleutel-aandrywers van die prestasie is die verkope van aartappels en ander groente. Aartappelverkope het 31,2-persent in gewig tot die mark bygedra, en verteenwoordig 28-persent van die algehele omset. Park sê die prestasie is ‘n toonbeeld van die mark se volgehoue prestasie en veerkragtigheid.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy stem nie saam met die Amerikaanse president, Joe Biden, se standpunt dat hy nie genoeg doen om ‘n skietstakingsooreenkoms te bereik nie. Tienduisende Israeliese burgers het betoog teen die regering se hantering van die oorlog in Gaza en Hamas se versuim om gyselaars vry te laat. Die versetoptrede volg op die ontdekking van die liggame van ses gyselaars in Gaza. Netanyahu sê hy sal gyselaars deur militêre druk bevry eerder as om ‘n ooreenkoms met Hamas aan te gaan:
# Rugby: Nieu-Seeland se voorspeler-afrigter, Jason Ryan, sê hulle wil in die tweede Kampioenskapstoets in Kaapstad voortbou op die positiewe aspekte van die eerste toets teen Suid-Afrika. Die All Blacks het 27-31 teen die Springbokke verloor op Ellispark. Ryan sê hulle kyk na kwessies soos die afname in intensiteit en gebrek aan punte in die laaste kwart van die eerste toets:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-41-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….