Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus se nasionale voorsitter bedank oor ‘n reistoelaag-terugbetalingskwessie
# Die minister van Justisie, Thembi Simelane, gaan voor die ANC se integriteitskommissie verskyn
# En, rugby: Die Bokke is in ‘n goeie posisie in die Rugbykampioenskap
# Die Vryheidsfront Plus se nasionale voorsitter, Anton Alberts, het bedank nadat die party se federale raad hom beveel het om meer as 100-duisend-rand terug te betaal. Die betaling hou verband met ‘n betwiste reistoelae-eis aan die Parlement. Alberts ontken onregmatighede, maar sê hy het verkies om uit te tree en die bedrag terug te betaal as ’n geskenk aan die party om eenheid te handhaaf. ‘n Parlementslid van die VF Plus, Wouter Wessels, het Alberts se bedanking en die terugbetalingsbesluit bevestig.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, gaan voor die party se integriteitskommissie verskyn. Dit hou verband met bewerings dat sy meer as 500-duisend-rand ontvang het van ‘n maatskappy wat sake gedoen het met VBS Mutual Bank, en wat tot sy ineenstorting gelei het. Sy was in daardie stadium burgemeester van Polokwane. Simelane verskyn Vrydag ook voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie. Mbalula het aan eNCA gesê hulle verwag ʼn volledige verslag van Simelane oor die bewerings:
# Die Departement van Vervoer sê Idemia Identity and Security South Africa is aangestel om nuwe slim rybewyskaarte vir die land te vervaardig. Die Kabinet het reeds in Augustus 2022 die groen lig gegee vir ‘n nuwe rybewyskaart vir die land. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê Idemia sal ’n diensvlakooreenkoms met die departement aangaan voor hy met sy werk begin om die nodige infrastruktuur en stelsels gereed te kry:
# Drukgroepe het hul bedenkinge oor die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels. Die wetgewing wil tabak- en damprook-produkte strenger reguleer. Dit het kritiek uitgelok van drukgroepe soos die Nasionale Alliansie vir Informele Handelaars en Vaping Saved My Life. Hulle voer aan die wetsontwerp kan verbruikers na onwettige markte laat skuid en sowat 2,2-miljoen handelaars benadeel wat op sigaretverkope staatmaak. Die groepe is ook bekommerd oor moontlike werksverliese en verminderde belastinginkomste.
# Rugby: Die Springbokke is ná drie rondes die enigste onoorwonne span in die Rugbykampioenskap nadat hulle Nieu-Seeland Saterdag op Ellispark 31-27 verslaan het. Die Bokke loop voor met 14 punte teenoor die All Blacks se ses, Argentinië se vyf en Australië se vier. Die Wallabies het Saterdag hul eerste sege van die Kampioenskap behaal toe hulle met die Pumas afgereken het. Springbokafrigter Rassie Erasmus sê dis belangrik om die kampioenskap te wen, maar hulle fokus nou op die volgende wedstryd teen Nieu-Seeland in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-742-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-499-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….