Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se digitale ekonomie kan teen 2035 91-miljard-rand bydra
# Transnet takel wydverspreide diefstal en vandalisme op sy spoornetwerk
# En, rugby: Die All Black-kaptein Scott Barrett keer terug vir die Springbok-kragmeting
# ‘n Nuwe verslag deur Naspers en die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection het onthul Suid-Afrika se digitale platform-ekonomie kan teen 2035 91,4-miljard-rand tot die ekonomie bydra. Die uitvoerende hoof van Naspers, Phuthi Mahanyele-Dabengwa, lig die hervormende potensiaal uit van digitale platforms en voorspel bruto binnelandse produkgroei van 0,02-persent in 2022 tot 1,38-persent teen 2035. Sy sê dit is ‘n aansienlike ekonomiese groeivooruitsig:
# Transnet is besig met die instelling van ‘n vernuftige uitkoms-gebaseerde sekerheidsbenadering om wydverspreide diefstal op sy spoornetwerk te bekamp. Die staatsonderneming het in Desember verlede jaar onthul hy het oor 18-maande 290-miljoen-rand bestee om gesteelde en vernielde kabels te vervang. Ashwin Govind van Transnet sê hulle sal die fokus van algemene sekerheidsmaatreëls verskuif na die bereiking van spesifieke uitkomste. Hy voeg by dat hulle ook mik na die vermindering in herstelkoste en die insluiting van tegnologie en mannekrag vir omvattende beskerming.
# Cosatu het die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap gelukgewens met die suksesvolle aanbieding van die Verenigde Nasies se jeug-imbizo oor die Beraad van die Toekoms in samewerking met die VN se kantoor in Suid-Afrika. Die imbizo se doel is om jongmense te bemagtig om volhoubare ontwikkeling te bevorder en die land se toekoms te vorm. Zanele Sabela van Cosatu sê die toekoms behoort aan die jeug en hulle moet vaardighede, geleenthede en platforms kry om te lei:
# Rugby: Nieu-Seeland se hoofafrigter, Scott Robertson, het twee veranderings aangebring aan sy beginspan vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Suid-Afrika op Ellispark. Kaptein Scott Barrett, wat weens ‘n vingerbesering op die kantlyn was, vervang Sam Darry terwyl oudkaptein Sam Cane in Dalton Papali’i se plek sal opdraf. Dit sal Cane se 97ste toets wees. Robertson sê een van die grootste uitdagings waarvoor hulle kan voorberei, is ʼn kragmeting met die Springbokke op Ellispark en hulle sal die beste maak van die geleentheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-506-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Israelse museum het ‘n kleuter en sy gesin teruggenooi nadat die kind per ongeluk ‘n eeue-oue artefak gebreek het. Die vier-jarige het die Hecht-museum in Haifa besoek saam met sy pa, net bekend as Alex. Die seun was glo nuuskierig oor wat in die drie-duisend-500-jaar-oue kruik was, wat gebruik is om olyfolie en wyn te berg en te vervoer. Dit is kenmerkend van die antieke streek Kanaän en kom uit die tyd voor die Bybelse konings Dawid en Salomo. Die museum sê die gesin is welkom om terug te kom om die herstelde kruik te sien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….