Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein gaan Cholota se regsuitdaging teen haar inhegtenisneming aanhoor
# Die MK-party se Jeugliga staan bankvas agter Floyd Shivambu
# En, krieket: Die Proteas-vroue se nasionale oefenkamp begin in aanloop tot die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein sal vandag die aansoek van die voormalige persoonlike assistent van die gewese Vrystaatse premier, Ace Magashule, aanhoor om haar onlangse inhegtenisneming onregmatig te verklaar. Moroadi Cholota staan haar bedrog- en korrupsie-aanklagte teen met betrekking tot die asbessaak van 255-miljoen-rand. Haar regspan het ‘n dringende aansoek ingedien en voer aan haar uitlewering uit Amerika het haar regte geskend. Cholota vra die hof moet die aanklagte ongeldig verklaar en die saak van die rol skrap. Sy is tans uit op borgtog.
# Die MK-party se Jeugliga sê hy bly by sy standpunt om Floyd Shivambu se aanstelling as die party se nasionale organiseerder te steun. Die EFF se gewese adjunkpresident wat sowat ‘n week gelde by die party aangesluit het, sal beheer neem oor politieke onderrig, monitering, bestuur en die instelling van strukture. MK se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê die ongegronde kritiek en aanlyn vyandigheid teen Shivambu is net desperate pogings deur diegene wat die progressiewe verandering in die beweging vrees:
# Die AmaZulu-koning, Misuzulu kaZwelithini, het die KwaZulu-Natalse premier, Thami Ntuli, en die LUR vir Finansies, Francis Rodgers, versoek om alles moontlik te doen vir die herinstelling van die Ithala Bank se lisensie. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het verlede week die beleërde KwaZulu-Natalse ontwikkelingsbank se lisensie teruggetrek omdat dit nie aan finansiële betroubaarheids-vereistes voldoen nie. Die koning waarsku dat die opskorting duisende inwoners in gevaar stel. Hy sê Ithala is die ruggraat van ondernemers in landelike en informele nedersettings in die provinsie en moet nie ontwrig word nie.
# Krieket: Die Protea-vroue is in Durban byeen vir ‘n nasionale oefenkamp om voor te berei vir die T20-Wêreldbekertoernooi. Dit volg na ‘n vaardigheidskamp in Tshwane vroeër die maand. Die tussentydse hoofafrigter, Dillon du Preez, sê die kamp op Kingsmead sal verseker die beste moontlike groep is gereed vir die toernooi, wat vroeg in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Die toernooi is na die Emirate verskuif weens politieke onrus in Bangladesj.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-853-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-523-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Mpumalanga se Toerisme- en Parke-agentskap sê ses leeus word tans gemonitor en dit lyk asof hulle goed aanpas in die Krugerwildtuin. Die agentskap se woordvoerder, Simphiwe Shungube, sê die diere kon nie na die Riverside-plaas in Malelane teruggebring word van waar hulle gekom het nie, want hulle is deur ‘n nuwe groep leeumannetjies weggejaag en sou vrekgemaak word of weer ontsnap het, en ‘n gevaar vir gemeenskappe skep:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….