Nuus 12:00
BULLETIN 4 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê alle kommunikasiekanale is steeds oop om met Amerika oor handel in gesprek te tree
# ANC erken swak munisipale leierskap te midde van bestuurskrisis
# En, meer skole loop deur onder diefstal en skade tydens die wintervakansie in die Wes-Kaap
# President Cyril Ramaphosa sê Amerika se besluit om ‘n tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse invoere te hef, beklemtoon die dringendheid om aan te pas by die toenemende onstuimigheid in internasionale handel. Die tariefverhogings bedreig uitvoervermoë in strategiese sektore. Die president het in sy weeklikse nuusbrief beklemtoon dat Suid-Afrika nie met Amerikaanse produsente meeding nie en ook nie ‘n bedreiging vir Amerikaanse nywerhede inhou nie. Ramaphosa sê die regering het Amerika betrek om wedersyds-voordelige handel te verbeter, en bygevoeg die belangrikste kwessie is die beskerming van uitvoernywerhede.
# Die ANC sê die gehalte van sommige van sy kaderontplooiings, veral in munisipaliteite, laat veel te wense oor. Slegs 41 uit 257 rade het ‘n skoon oudit ontvang in die 2023/24-boekjaar. Volgens die Ouditeur-Generaal het 99 munisipaliteite ‘n ongekwalifiseerde ouditmening ontvang met bevindinge oor prestasie-inligting en nakoming. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientso Ramokgopa, het tydens die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering in Johannesburg gesê hulle heroorweeg die ontplooiing na sommige van die groot metro’s.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê hulle is bekommerd oor die 57 voorvalle van inbraak en vernielsug by 46 skole gedurende die wintervakansie. Hy sê dis ‘n beduidende toename teenoor dieselfde tydperk verlede jaar toe 45 voorvalle by 39 skole aangemeld is. Maynier sê skooleiendom loop ‘n groot gevaar van inbrake en beskadiging tydens skoolvakansies, en daarom het die departement sekerheidsmaatreëls by 424 skole in hoë risikogebiede ondersteun tydens die vakansie:
# Lede van die Progressive Forces of South Africa hou vandag ‘n plakkaatbetoging buite die Hooggeregshof in Pretoria waar ʼn geskil aangehoor word oor die begrafnis van oudpresident Edgar Lungu van Zambië, wat in Junie in Suid-Afrika dood is. Die geskil tussen sy familie en die Zambiese regering gaan oor repatriasie of ‘n plaaslike begrafnis. Progressive Forces se nasionale organiseerder, Bonang Sepoloane, sê hulle is gekant teen ʼn begrafnis in Suid-Afrika, want dit toon nie respek vir Zambië se soewereiniteit nie, en hulle is bekommerd oor politieke en diplomatieke gevolge.
# Tennis: Die Wimbledon-kampioen, Iga Swiatek van Pole, is die jongste gekeurde wat op die Kanadese Ope in Montreal uitgeskakel is. Die tweede gekeurde het in skoon stelle teen die 19de gekeurde Deen, Clara Tauson, verloor. Die Amerikaner, Madison Keys, is deur na haar agtste kwarteindronde nadat sy met die Tsjeg, Karolina Muchova, afgereken het. In die manstoernooi in Toronto het die Amerikaner Taylor Fritz die Tsjeg, Jiri Lehecka, naelskraaps geklop terwyl die Deen, Holger Rune, teen Alexei Popyrin van Australië verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-764-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….