Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die beslissing oor die uitlewering van Iain Wares is ‘n oorwinning vir geregtigheid
# ‘n Onderwys-aktivis sê kringtelevisie moet by skole in Eldoradopark opgestel word
# En, rugby: Die Bok-afrigter Rassie Erasmus verwag ‘n taai toets teen die All Blacks
# Die EFF sê die Wes-Kaapse Hooggeregshof se beslissing om die gewese onderwyser Iain Wares aan Skotland uit te lewer, is ‘n oorwinning vir geregtigheid en die beskerming van die kwesbaarstes. Voormalige leerders in sy klas aan die Fettes College en die Edinburgh-akademie beskuldig die 85-jarige Wares van minstens 74 seksuele oortredings terwyl hy in die 1960s en-70’s daar skoolgehou het. Die EFF sê die saak beklemtoon die kommerwekkende feit dat Suid-Afrika vir jare skuiling aan ‘n pedofiel verleen en hom toegelaat het om sy gedrag ongesiens voort te sit.
Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra die Departement van Basiese Onderwys en betrokke owerhede intussen om kringtelevisie-kameras by skole in Eldoradopark, Gauteng, aan te bring. Twee mans het verlede week op leerders in die Sekonêre Skool Willow Crescent losgebrand en twee gewond. By die Sekondêre Skool Lancea Vale is ‘n leerder met ʼn skerp voorwerp gesteek, en gister is drie klaskamers aan die brand gesteek. Makaneta sê leerders en personeel se veiligheid moet voorkeur kry:
# Die Amerikaanse oudpresident, Barack Obama, sê die Demokrate se presidentskandidaat, Kamala Harris, en haar verkiesingsvennoot, Tim Walz, verteenwoordig ʼn Amerika waar almal weer na mekaar omsien. Hy het Harris passievol ondersteun op die tweede aand van die Demokratiese Nasionale Konvensie in Chicago. Obama sê die meerderheid Amerikaners wil nie in ʼn land bly wat bitter en verdeeld is nie:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê sy spelers sal fisies en geestelik gereed moet wees vir die twee Rugbykampioenskaps-toetse teen Nieu-Seeland. Hy het ʼn groep van 37 spelers gekies vir die twee uitverkoopte toetse op die 31ste op Ellispark en ʼn week later in Kaapstad. Steven Kitshoff, Jaden Hendrikse en Canan Moodie is ook ingesluit. Erasmus sê hulle besef hoe belangrik dit is om alles in hierdie wedstryde te gee en hul hoop lewend te hou om die titel die eerste keer sedert 2019 te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-340-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-509-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse popster Taylor Swift het die Britse en Europese skof van haar hoogs suksesvolle Eras-toer op die Wembley-stadion in Londen afgesluit. Sy is die eerste solo-kunstenaar wat agt vertonings in ʼn enkele toer op Wembley aanbied. Dit verbeter die rekord vir ʼn solo-kunstenaar wat Michael Jackson in 1988 met sy Bad-toer opgestel het. Swift het net in die Verenigde Koninkryk voor byna 1,2-miljoen mense opgetree. Sy beplan nog ʼn klomp vertonings in Amerika en Kanada, insluitend in Miami, New Orleans en Indianapolis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….