Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die Marikana-slagting onthul die naakte waarheid oor Suid-Afrika se post-apartheid-werklikheid
# ‘n Politieke ontleder glo Floyd Shivambu se vertrek kan lei tot die EFF se agteruitgang
# En, rugby: Elrigh Louw verwag ‘n hewige aanslag van die Wallabies
# Die EFF sê die Marikana-slagting onthul die naakte waarheid van Suid-Afrika se werklikheid na apartheid dat swart lewens opgeoffer kan word in die navolging van wins. Vandag is die 12de herdenking van die slagting waarin die polisie 34 mynwerkers by die Lonmin-platinummyn naby Rustenburg in Noordwes doodgeskiet het. Die EFF sê die mynwerkers wat oorleef het, werk steeds in omstandighede waarin hulle uitgebuit word en is in dieselfde stryd vir ‘n leefbare loon gewikkel.
# Floyd Shivambu se vertrek uit die EFF kan wesenlike gevolge hê vir die party se toekoms en plek in die Suid-Afrikaanse politiek. Dit is die mening van die politieke ontleder Levy Ndou. Die EFF se adjunk-president en stigterslid het gister bedank en by die MK-party aangesluit. Dit volg nadat die EFF as derde grootste politieke party ontsetel is. Ndou sê Shivambu se afwesigheid kan tot die EFF se agteruitgang lei, want hy was ‘n belangrike faktor in die verskaffing van politieke en ideologiese duidelikheid in die party.
# KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, sê die provinsiale regering is daartoe verbind om strategiese beleggings soos die een-miljard-rand in die Durbanse hawe, te gebruik om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder. Hy het deelgeneem aan die naamgewing- en inwydingseremonie van vyf nuwe sleepbote om bedrywighede in die Durbanse hawe te ondersteun. Die premier sê die provinsie is gereed om die voorkeursentrum vir logistiek en vervoer te wees:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê sy departement is daarvan bewus dat die padwerke op die N2 in die Suid-Kaap groot frustrasie vir reisigers veroorsaak. Padgebruikers word gemaan om nie die Sewe-passe-pad tussen George en Wildernis te gebruik om die padwerke op die N2 te omseil nie. Gedeeltes van die geskiedkundige pad is weggespoel weens die swaar reën, wat dreinerings-infrastruktuur beskadig en die gevaar van ineenstorting verhoog het. Simmers sê dit sal tyd neem om die pad te herstel:
# Rugby: Die Springbok-agtsteman Elrigh Louw sê hulle verwag ‘n hewige aanslag van Australië in môre se tweede ronde van die Rugby-Kampioenskap in Perth. Die Bokke het die Wallabies verlede naweek in Brisbane 33-7 verniel. Louw is een van vyf spelers wat sy plek in die beginspan behou het, en kry sy tweede kans in die wêreldkampioen se opdrafspan. Hy sê Australië gaan hulle spel opskerp, maar dit is belangrik dat die Bokke net hul beste gee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-558-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-460-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….