Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se kleinhandelsyfers vir Junie is beter as wat verwag is
# Die Presidensie verseker LP’s die aanstellings vir ‘n nuwe beheermaatskappy vir staatsondernemings sal op meriete geskied
# En, rugby: Die All Blacks maak vier veranderings aan hulle opdrafspan vir die tweede kragmeting met die Pumas
# Kleinhandelverkope het volgens Statistieke Suid-Afrika jaar-op-jaar met 4,1-persent gestyg, wat beter is as vooruitskattings en dui op verbeterde verbruikersvertroue. Die toename volg op ‘n styging van 1,1-persent in Mei en ondersteun positiewe groei in die bruto binnelandse produk. Met inflasie laer op 5,1-persent word verwag dat die Reserwebank in September rentekoerse gaan verlaag, wat verligting aan verbruikers sal bied. ‘n Woordvoerder van Statistieke SA, Raquel Floris, sê die groei word aangevuur deur laer brandstofpryse en beter verkope in supermarkte:
# Die Presidensie het die Parlement verseker die raad van die beheermaatskappy vir staatsondernemings sal deur gekwalifiseerde individue bestuur word. Die stigting van die maatskappy volg na die ontbinding van die Departement van Openbare Ondernemings wat verantwoordelik was vir vyf staatsondernemings. Die regering sê die lede sal op meriete aangestel word om die probleem van kaderontplooing uit te skakel. Parlementslede in die Beplannings-, Moniterings- en Evalueringskomitee het die doelwit bevraagteken van die stigting van ‘n groot staatsbeheerde beheermaatskappy om alle staatsondernemings te beheer.
# Columbia Universiteit se president, Minouche Shafik, het bedank na maande se kritiek op haar hantering van studentebetogings oor die oorlog tussen Israel en Hamas. Columbia is beskou as die middelpunt van die studentgeleide pro-Palestynse betogings wat uitgebrei het na ander universiteite in Amerika en ander lande. Shafik sê dit was ‘n onstuimige tydperk en moeilik om uiteenlopende menings by die universiteit te versoen. Sy is die derde president van ʼn Ivy League-universiteit wat oor die Gaza-betogings bedank.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het vier veranderings aan die beginspan gemaak wat Saterdag in die tweede toets op Edenpark in Auckland teen Argentinië te staan kom. Hy het gereageer op die verrassende nederlaag van 38-30 teen die Pumas verlede naweek deur drie agterspelers en een voorspeler te vervang. Will Jordan, Caleb Clarke, Rieko Ioane en Tamaiti Williams is in die opdrafspan terwyl Sam Cane op die reserwebank ingesluit is. Robertson sê hulle moet minder foute maak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-133-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-455-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Terapiehonde in die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg verander kankerpasiënte se ervaring tydens behandeling met hulle vertroostende teenwoordigheid. Die spesiaal-opgeleide honde besoek die hospitaal maandeliks as deel van die TOP Dogs-program om vreugde te verskaf, spanning te verminder en pasiënte se moraal ʼn hupstoot te gee. Die gehaltebestuurder van Netcare se Kankersorg, Julie Herold, sê die interaksie met honde bring aan pasiënte ʼn gevoel van normaliteit, en baie onvoorwaardelike liefde en toegeneentheid wanneer hulle vir radioterapie-behandeling kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….