Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatskaping-vervolging is in gevaar nadat die databasis met bewyse glo verdwyn
# Cosatu sê die regering moet oorlog verklaar teen werkloosheid
# En, rugby: Nog lande staan nou ‘n kans om vir die Wêreldbekertoernooi vir mans te kwalifiseer
# Die Nasionale Vervolgingsgesag en die Ondersoekdirektoraat het volgens berigte die databasis met bewyse wat die Zondo-kommissie se ondersoekers ingesamel het, verloor. Dit word toegeskryf aan ‘n gebrek aan onderhoud. Die bewyse is in ‘n veilige wolklêer met gespesialiseerde programmatuur gebêre en die ministerie van Justisie is die bewaarder daarvan. Volgens News24 bevat die databasis vermoedelik nog verswarende getuienis teen ANC-lede en staatsbeheerde instellings soos Eskom en Transnet. Die NGV se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê sonder hierdie getuienis kan hulle nie vordering maak met staatskapingsake nie.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die land het ‘n mediumtermyn-begrotingsbeleidverklaring nodig wat oorlog verklaar teen werkloosheid, en ʼn swak ekonomie aan die gang kry. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het van 32,9-persent in die eerste kwartaal van vanjaar tot 33,5-persent in die tweede kwartaal gestyg. Matthew Parks van Cosatu sê die regering en die privaat sektor moet werkloses en hulle gesinne se krisis in ag neem:
# Die Gautengse Hooggeregshof het beslis die provinsiale regering moet sowat 500-miljoen-rand aan die perdewedrenbedryf betaal. Die hof het bevind dat hy onwettig ‘n noodsaaklike weddenskapheffing opgeskort het. Die bevel vereis dat die regering die heffing weer moet instel, wat plaaslike wedrenmaatskappye bevoordeel en moontlik ook ander ander maatskappye in Suid-Afrika. Dié beslissing volg nadat die regering nie geslaag het met sy appèl in die langdurige geskil met Phumele Gaming and Leisure nie.
# Rugby: Wêreld-Rugby het veranderings aan die formaat vir 2027 se Wêreldbekertoernooi vir mans in Australië aangekondig en die aantal spanne van 20 tot 24 te vermeerder. Twaalf spanne, insluitend Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Ierland en Engeland, het regstreeks gekwalifiseer deur in die boonste drie van hulle onderskeidelike groepe te eindig in verlede jaar se toernooi in Frankryk. Wêreld-Rugby se uitvoerende hoof, Alan Gilpin, sê die 12 ander lande sal ‘n internasionale kwalifiseringsproses deurgaan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-616-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-469-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Britse banknote met ‘n sigwaarde van byna 80-duisend-pond het meer as 11-keer die bedrag ingesamel vir welsyn op ‘n reeks veilings. Die 5-, 10-, 20- en 50-pondnote met koning Charles se gesig daarop is in Junie uitgegee. Hy het ‘n volledige stel eerste uitgawes ontvang, elk met ‘n reeksnommer wat eindig op 000001, terwyl honderde ander banknote met lae reeksnommers opgeveil is. Die vier veilings van die afslaer Spink in Londen het altesaam net meer as 914-duisend-pond opgelewer. Die opbrengs word onder tien welsynsorganisasies verdeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….