Nuus 12:00
BULLETIN 1 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia word ingehuldig as waarnemende minister van Polisie
# Batohi sê die moord op ‘n Oos-Kaapse aanklaer is ‘n aanval op die oppergesag van die reg
# En motorsport: Max Verstappen bevestig hy bly volgende jaar by Red Bull
# Professor Firoz Cachalia is amptelik ingehuldig as waarnemende minister van Polisie in die Uniegebou in Pretoria. Cachalia neem oor by Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof is na aanleiding van die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkwanazi, se bewerings van korrupsie. Die Konstitusionele Hof het gister die MK-party se aansoek teen president Cyril Ramaphosa se reg tot die aanstelling verwerp. Cachalia, ‘n gewese anti-apartheidsaktivis, neem sy plek in te midde van toenemende kommer oor openbare vertroue in wetstoepassing:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het die sinnelose moord op ‘n Oos-Kaapse aanklaer veroordeel. Tracy Brown, wat verbonde was aan die New Brighton-landdroshof in Gqeberha, is gister buite haar huis doodgeskiet. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê Brown se moord is ʼn aanval op die oppergesag van die reg en onverpoosde pogings om misdadigers aan die pen te laat ry:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om die rentekoers met nog 25 basispunte te verlaag, is die regte besluit gegewe die lae inflasie en trae groei in die bruto binnelandse produk. Dit is die mening van ‘n ekonoom van die Noordwes-universiteit se Sakeskool, professor Raymond Parsons. Hy sê die laer leenkoste is positief terwyl die ekonomiese herstel sukkel om momentum te kry. Parsons waarsku dat verdere rentekoersverlagings vanjaar hoogs onwaarskynlik is gegewe die wêreldwye onsekerheid weens Amerikaanse tariewe.
# Motorsport: Die viermalige heersende wêreldkampioen, Max Verstappen, het bevestig hy bly by Red Bull vir die 2026 Formule Een-seisoen. Die 27-jarige Nederlander is tot 2028 onder kontrak by Red Bull, maar daar was sprake van ‘n moontlike skuif na Mercedes volgende jaar. Verstappen het voor die naweek se Hongaarse Grand Prix gesê dit was nog altyd sy voorneme om volgende jaar by die span te bly, veral met F1 wat ‘n nuwe era van tegniese regulering betree:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-590-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-288-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-69-sent per vat.
# En laastens, die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, bied vandag ‘n dialoog oor vroue in die handelswêreld aan tydens die amptelike bekendstelling van Vrouemaand in die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg. Die geleentheid, met die tema ‘Bou Veerkragtige Ekonomieë vir Almal’, sal informele ekonomiese ondersteuning, groen energie en belegging in sleutelsektore uitlig. Die minister sal ook ‘n paneelbespreking lei oor hoe om risiko’s vir die finansiële insluiting van vroue te verminder en oor toegang tot geleenthede in die Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….