Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra ‘n omvattende burgerskap-oudit te midde van die Mej Suid-Afrika-sage
# Die DA is teleurgesteld omdat die Estina-saak van die hofrol geskrap is
# En, Olimpiese Spele: Miné de Klerk skop vandag se aksie af vir Span Suid-Afrika
# ActionSA eis ‘n omvattende burgerskap-oudit nadat die Departement van Binnelandse Sake onthul het daar is prima facie-bewyse van bedrog en identiteitsdiefstal teen die ma van ‘n deelnemer aan Mej Suid-Afrika, Chidimma Adetshina. Lerato Ngobeni van ActionSA sê ʼn ondersoek wat die ministeriële komitee in Junie 2022 gedoen het oor die uitreiking van permitte en visums, het onthul 36-duisend-647 bedrieglike permit- en visum-aansoeke is ontdek. Sy sê 12-duisend-177 hiervan was van Nigeriese burgers:
# Die DA sê die Vrystaatse Hooggeregshof se besluit om die Estina-melkplaas se saak van die rol te skrap, is ʼn teleurstelling. Die verdediging het aangevoer die staat het nie sy ondersoek volledig bekendgemaak nie. Die saak het betrekking op bewerings dat 280-miljoen se staatsfondse tussen 2012 en 2014 by die Vrystaatse Landboudepartement geplunder is. Die beskuldigdes sluit die gewese LUR, Mosebenzi Zwane, en Gupta-medewerkers in. Roy Jankielsohn van die DA sê die stryd om aanspreeklikheid is nie verby nie:
# Die Franse polisie het volgens berigte die Amerikaanse FBI betrek by die ondersoek na die sabotasie van hoëspoed-treindienste die oggend van die opening van die Olimpiese Spele in Parys. Dit volg nadat media-organisasies blykbaar ‘n e-pos ontvang het wat volgens die polisie moontlik afkomstig is van die oortreders. Dit bevat ‘n lys griewe maar aanvaar nie aanspreeklikheid nie. Reuters berig die boodskap is versend van ‘n adres van ‘n Amerikaanse aanlyn kommunikasiemaatskappy, riseup.net, wat glo kommunikasie- en rekenaarhulpbronne aan bondgenote beskikbaar stel wat betrokke is by die stryd teen kapitalisme.
# Olimpiese Spele: Miné de Klerk het vanoggend die aksie vir Suid-Afrika in Parys afgeskop in die kwalifiserende ronde van die vrouegewigstoot. Daarna het Marioné Fourie haar heruitdun van die vroue-100-meterhekkies gewen. Later spring die manspan weg in die eerste ronde van die vier-maal-100-meter-aflos. Die span het vroeër die slegte nuus gekry dat die tweede-vinnigste Suid-Afrikaner van alle tye, Benjamin Richardson, weens ‘n beenbesering nie sal kan deelneem nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-282-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-397-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Afrikaanse televisiereekse is besig om al gewilder te raak in Asië, waaronder Wyfie. Dit handel oor vier koshuis-kamermaats wat nie goed oor die weg kom nie. Die aktrises is Beáta Bena Green, Celeste Loots, Kristen Raath en Mienke Ehlers. Die reeks geregisseer deur Johan Cronjé is op die Seoulse Internasionale Drama-toekennings benoem as beste internasionale reeks. Spinners op Showmax met Cantona James en Dillon Windvogel is ook gewild in Shanghai en het die toekenning vir die beste buitelandse TV-reeks op die Shanghaise TV-fees verower.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….