Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sentrum vir Migrasie en die Gemeenskap sê grenssluitings sal nie mensehandel keer nie
# Die minister van Gesondheid gaan begin om ‘n artikel van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in te stel
# En, krieket: Die verroeste Proteas speel van vandag teen die Windies in die eerste toets in Port of Spain
# Die Sentrum vir Migrasie en Gemeenskap sê die sluiting van Suid-Afrika se grense sal nie mensehandel stopsit nie. Negentig Ethiopiese burgers, wat vermoedelik mensehandelslagoffers is, is onlangs in Johannesburg uit onmenslike omstandighede gered. Loren Landau van die sentrum het op Newzroom Afrika die behoefte beklemtoon aan verbeterde beleid by die Grensbestuursowerheid, Binnelandse Sake en ander belanghebbers om mensehandel te voorkom:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê hy gaan begin om Artikel 57 van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in te stel. Hy gaan ook rondreis om met alle belanghebbers te vergader om hul bekommernisse te verstaan. Artikel 57 handel oor oorgangsmeganismes wat die NGV gaan vereis en sluit die aanstelling van ‘n ministeriële advieskomitee in. President Cyril Ramaphosa het die NGV-wet onderteken, maar dis nog nie uitgevaardig nie. Motsoaledi sê dit kan 15 jaar duur om die NGV in werking te stel.
# Die Hooggeregshof in Pretoria wag dat die Stad Tshwane optree nadat hy die Afrikaner-nedersetting Kleinfontein onwettig verklaar het. Die hof het bevind die inwoners van die sowat 650 huise tree onwettig op. Die metro is beveel om alle wette toe te pas wat verband hou met beplanning en bouregulasies op die plase waaruit die nedersetting bestaan. Kleinfontein se eiendomsbelasting is blykbaar ook agterstallig, wat Tshwane se finansies raak.
# Krieket: Die eerste van twee toetse tussen Suid-Afrika en die Windies begin vandag in Port of Spain, met die Proteas wat hoop om hul veldtog in die Wêreld-toetskampioenskap op koers te kry. Hulle is tans in die sewende plek. Die Windies is in die negende plek en het pas ‘n toetsreeks in Engeland voltooi, terwyl die meeste Suid-Afrikaners in Desember laas toetse gespeel het nie. Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sê dis toetsspelers se verantwoordelikheid om aantreklike krieket te speel en die formaat lewend te hou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-78-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-390-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het hulde gebring aan die legendariese bekroonde aktrise Connie Chiume, en haar dood beskryf as ‘n groot verlies vir die kuns- en kultuurwêreld. Die 72-jarige is gistermiddag in ‘n hospitaal dood ná ‘n kort siekte. Chiume was bekend vir televisiereekse insluitend Rhythm City en Zone 14. Sy het ook in die Hollywood Marvel-lokettreffer Black Panther verskyn. Die ministerie se woordvoerder, Cassiday Rangata-Jacobs, sê Chiume se talent het geen perke geken nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….