Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
# Pensioenfonds-lede word gewaarsku om betroubare finansiële raad te kry oor onttrekkings
# ‘n Energiekenner voorspel die einde van beurtkrag teen die einde van die jaar
# En, die Olimpiese Spele: Die organiseerders is nie te bekommerd nadat verskeie atlete Covid-19 opgedoen het nie
# Die Nasionale Tesourie het die bekragtiging van die Wysigingswet op Pensioenfondse verwelkom en sê dit lei die laaste deel van die vereiste wysigings in om die tweepot-stelsel in te stel. Die Tesourie sê die nuwe stelsel skep ‘n meer volhoubare aftreefonds-stelsel terwyl dit buigsamer is om aan lede se verskillende behoeftes te voldoen. Hy waarsku fondslede om betroubare finansiële raad in te win oor die gevolge wanneer geld uit die spaarafdeling onttrek word.
# Die energiekenner Sampson Mamphweli glo die regering kan teen November of Desember vanjaar aankondig beurtkrag is iets van die verlede. Mamphweli het aan Newzroom Afrika gesê die vooruitsig vir die beskikbaarheid van energie is positief, met vier maande sonder beurtkrag, ‘n energie-beskikbaarheidsfaktor van meer as 60-persent en minder ineenstortings. Hy is vol vertroue Eskom kan tot die begin van die somer volhou met energievoorsiening:
# Die omgewingsbelangegroep Green Connection, het TotalEnergies se aankondiging verwelkom dat hy afstand gaan doen van twee aflandige olie- en gasprojekte in Suid-Afrika. ‘n Filiaalmaatskappy van TotalEnergies het ‘n belang van 45-persent in ‘n gebied aan die suidkus waar die Brulpadda- en die Luiperd-veld ontdek is. Lisa Makuala van Green Connection sê beleggings in fossielbrandstowwe wat klimaatsverandering veroorsaak, behoort in die verlede, want daar is genoeg reserwes vir ‘n oorgang na volhoubare energie:
# Die vakbondfederasie Cosatu sluit hom aan by Suid-Afrikaanse verkiesingswaarnemers wat vinnig die bewerings van ‘n bedrieglike verkiesingsproses in Venezuela weerlê het. Die land se opposisie en talle Latyns-Amerikaanse leiers weier om die outoritêre leier, Nicolás Maduro, se oorwinning te erken en beweer daar was bedrog. Cosatu sê internasionale waarnemers, insluitend Suid-Afrikaners, het ‘n vrye en regverdige verkiesingsproses waargeneem. Hy voeg by die bewering van opposisieleier Edmundo Gonzalez dat hy meer as 70-persent van die stemme gekry het, is ‘n totale verrassing.
# Olimpiese Spele: Die organiseerders is nie te bekommerd nadat verskeie atlete positief getoets het vir Covid-19 nie. Onder hulle is die Britse swemmer Adam Peaty, verskeie Australiese vrouewaterpolospelers, en die Australiese swemmer Lani Pallister, wat onttrek het aan die een-duisend-500-meter vryslag om haar kragte te spaar vir die vier-maal-200-meter vryslag. Woordvoerder Anne Descamps sê die protokol is dat atlete wat positief getoets het maskers moet dra, maar daar is baie min Covid-19-gevalle in Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-83-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….