Nuus 12:00
BULLETIN 17 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê SAOG-ekonomieë moet integreer word om ‘n dinamiese streekmark te bou
# Vier mense, insluitend ‘n polisiekonstabel, is in hegtenis geneem vir afpersing in Kaapstad
# En die Amerikaanse aktrise Hayden Panettiere sterf in die ouderdom van 36
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se lidmaatskap van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gaan oor werkskepping en die verbetering van burgers se lewensgehalte. Die land bied hierdie week die 46ste SAOG-beraad in Durban aan. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief geen land in die streek kan op sy eie ‘n geïntegreerde kragstelsel bou, oorgrens-vervoergange ontwikkel, gedeelde waterbronne bestuur of die volle uitwerking van klimaatsverandering weerstaan nie. Hy sê SAOG-lidlande moet hul ekonomieë verbind deur handels-, diens- en nywerheidsdeurgange om groter streeksintegrasie en ekonomiese groei te bevorder.
# Activists and Citizens Forum sê die Nasionale Vervolgingsgesag moet versterk word om sake te hanteer wat voortspruit uit die Madlanga-kommissie. Die kommissie se tweede tussentydse verslag beveel strafregtelike stappe aan teen Shadrack Sibiya, Getuie G, Fannie Nkosi en Brown Mogotsi. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, moet ervare advokate met spesialis-vaardighede werf om die ingewikkelde sake te hanteer:
# Vier verdagtes tussen 23- en 53-jaar-oud is in Bellville, Kaapstad, in hegtenis geneem vir afpersing. ‘n Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê hulle is drie familielede van Nyanga, waarvan een ‘n polisiekonstabel is, en ‘n Somaliese sakeman wat na bewering geld ingesamel het namens die afpersingsnetwerk. Sy sê hulle het na bewering geld afgepers by meer as 50 Somaliese en Ethiopiese sakemanne in Khayamandi en die res van Stellenbosch:
# Tennis: Iga Swiatek van Pole het haar Cincinnati-ope-titel begin verdedig met ‘n oorwinning oor die Colombiaan, Emiliana Arango, om die derde ronde te haal. Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Australiër Talia Gibson geklop en die Amerikaner Coco Gauff het die Rus Liudmila Samsonova verslaan. In die mansafdeling het die Portugese kwalifiseerder Jaime Faria die Amerikaner Ben Shelton uitgeskakel in sy eerste oorwinning oor ‘n top-tien-speler. Die vierde-gekeurde Rus, Daniil Medvedev, Felix Auger-Aliassime van Kanada en die Amerikaner Taylor Fritz is ook deur na die derde ronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-354-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-401-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse aktrise Hayden Panettiere wat bekend is vir haar tolle in Heroes, Nashville en in Scream 4, is op 36-jarige leeftyd dood. Sy het as vierjarige ‘n rol vertolk in die gewilde Amerikaanse sepie, One Life to Live. Panettiere het ook die rol van ʼn rasieleier in die wetenskapsfiksie Heroes vertolk met die gawe om haar liggaam self te kan genees, gevolg deur Nashville, waarin sy ʼn jong countrymusiek-ster gespeel het. Die omstandighede rondom haar dood is nie bekend nie. Haar pa, Skip Panettiere, beskryf haar as ʼn ongelooflike lig en natuurkrag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….