Nuus 12:00
BULLETIN 25 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eiendom van Korrektiewe Dienste word in beslag geneem weens onbetaalde oortyd
# Tatjana Smith hoop op nog gouemedaljes op die Spele in Parys
# En Johannesburg kry sy eie School of Rock
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die hulp van die balju ingeroep om ‘n bevel af te dwing nadat die Departement van Korrektiewe Dienste nie voldoen het aan ‘n arbitrasie-toekenning nie. Die Bedingingsraad vir die Algemene Staatsdienssektor het in die guns beslis van 18 lede van die vakbond wat nie betaal is vir verpligte oortyd tydens Covid-19 nie. Die balju het by die departement se hoofkantoor in Pretoria beslag gelê op 50 rekenaars en 40 drukkers, wat opgeveil sal word om die lede te vergoed.
# Die Azanian People’s Organisation doen ‘n beroep op almal wat regstreeks of onregstreeks op onwettige wyse voordeel getrek het uit die VBS Mutual Bank om die geld aan die bank se kliënte terug te betaal. Die veroordeelde voormalige voorsitter, Tshifhiwa Matodzi, het die ANC, die EFF en die SAKP by die plundering van die bank betrek. AZAPO se woordvoerder, Jabu Rakwena, sê hulle moet aanspreeklikheid aanvaar en die geld as etiese leiers terugbetaal:
# Suid-Afrika se finansiëledienstebedryf het ‘n konsep-marktoesigkode bekendgestel om vertroue in sy markte te bevorder. Die kode is deur meer as 13 groot firmas soos banke ontwikkel en is gemik teen markmisbruik en nie-mededingende praktyke. Dit hanteer handelstoesig en kommunikasierisiko’s, en reageer op kwessies soos wisselkoers-manipulering en vals inligting. ʼn Woordvoerder van die Finansiële Sektor- gedragsowerheid, Olano Makhubela, sê dit fokus ook op etiese handel en insluiting van alle markdeelnemers:
# Olimpiese Spele: Die swemmer Tatjana Smith, wat Suid-Afrika se goue vrou op die vorige Spele in Tokio was, sê sy is reg om in Parys mee te ding. Span Suid-Afrika kon slegs drie medaljes in Japan opraap en twee daarvan was Smith s’n. Sy het goud gewen in die 200 meter-borsslag en silwer in die 100 meter-borsslag. Die 27-jarige swemmer sê sy hoop om weer Olimpiese sukses te behaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-en-38-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Amerika se grootste musiekskool-konsessie, School of Rock, open in November in Johannesburg. Die skool bied programme vir alle ouderdomme aan, insluitend optrede-gebaseerde onderrig, groepsklasse en privaat lesse. Dit sluit lesse in vir instrumente soos kitare, baskitare, tromme en sang, asook musiekproduksie. Die konsessiehouer en eienaar, Russell Lund, sê hulle wil ʼn prettige, inklusiewe omgewing vir studente skep en ʼn positiewe verandering in die gemeenskap bring. Voornemende studente kan reeds aansoek doen by www.parktownnorth.schoolofrock.com.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….